
Mnr. Cobus van Zyl, voorsitter van dié trustfonds, sê die skenking dien as ’n broodnodige bydrae tot Agri Securitas se werk om boerderygemeenskappe te help om hulself teen plaasaanvalle en ander misdade te beskerm.
“Boere wêreldwyd is uitgelewer aan misdaad, maar in Suid-Afrika ervaar boere ook wreedaardige plaasaanvalle, ’n verskynsel eie aan ons omgewing wat ons land se toekomstige voedselsekerheid ondermyn. Die kwesbaarheid van boerdery en landelike gemeenskappe is dus nie slegs ’n boere-aangeleentheid nie, maar wel ’n gemeenskapskwessie en van nasionale belang.
“Dit is bemoedigend om te sien dat die korporatiewe wêreld proaktief stappe doen om die sektor te help om boerderygemeenskappe te beveilig.”
Die geld sal gebruik word om die kamerastelsels te installeer ten einde misdaad te monitor en veldbrande te identifiseer voor hulle versprei.
Van Zyl sê die skenking beklemtoon die sterk vennootskappe wat bestaan tussen die landbousektor en die korporatiewe wêreld en bou voort op die ruim donasies deur ander korporatiewe vennote, onder meer Nissan SA wat die afgelope 21 jaar miljoene rand geskenk het om boerderygemeenskappe te beskerm.
Agri SA het die Agri Securitas-trustfonds in Oktober 1998 op die been gebring. Sedert 2017 het die fonds hulp aan meer as 122 landelike veiligheidsprojekte gebied en die lewe, veiligheid en lewensbestaan van bykans 8 800 boere en 183 000 plaaswerkers en hul afhanklikes verbeter, sê Van Zyl.
“Corteva Agriscience is aktief op grondvlak en werk innoverend saam met boere om hulle te help om suksesvol te boer. Ons streef daarna om die betroubaarste vennoot in die globale landbou- en voedselgemeenskap te wees. Ons samewerking met die Agri Securitas-trustfonds demonstreer ons verbintenis tot landelike veiligheid en die sukses van landbou in Suid-Afrika,” sê mnr. Tony Esmeraldo, uitvoerende hoof van Corteva Agriscience.
Mnr. Karl Socikwa, hoof-groepbestuurder van markontwikkeling en volhoubaarheid by Sanlam, sê hulle weet hoe katastrofies dit vir Suid-Afrika, ekonomie en gemeenskappe sou wees as die landbousektor nie in staat is om langdurige voedselsekerheid te bied nie.
“As deel van ons lang verhouding met die trustfonds, sal ons voortgaan om hom te ondersteun in sy uitsonderlike pogings om die veiligheid van kwesbare landelike gebiede te verbeter. Ons doel as ’n besigheid is om boere te bemagtig om finansieel onafhanklik, veilig en vooruitstrewend te wees en ons hoop dat die inisiatief ‘n impak sal hê op boerderygemeenskappe in hierdie gebied”.
Mnr. Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie by NWK, sê dit is vir dié maatskappy van uiterste belang dat na die veiligheid van produsente, hul gesinne en plaaswerkers omgesien word, Suid-Afrika se voedselsekerheid hang daarvan af. “Hierdie bydrae tot die Agri Securitas-trustfonds is dus vir ons ’n saak van nasionale belang vir alle Suid-Afrikaners.”