
Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, het Woensdag in ’n onderhoud op Die Groot Ontbyt op kykNET & Kie gesê hy verwag dat die departement van landbou ’n verbod gaan plaas op “alle samekoms van diere, dit is skoue, spekulasie van diere, ens. in die volle Suid-Afrika”.
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het op 14 November ’n verbod op veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes afgekondig. Dit volg nadat bek-en-klouseer vir die tweede keer vanjaar in Limpopo uitgebreek het.
Volgens Vervoort is een van die redes vir die landwye verbod die feit dat sommige instellings die verbod op veilings geïgnoreer het.
Vervoort sê die tweede uitbreking van bek-en-klouseer het voorgekom omdat besmette diere op ’n veiling aangebied is, en toe is dié diere na 35 verskillende persele vervoer. Só is ses mediumgroot voerkrale besmet.
Te midde van die verbod het belanghebbendes wat by die proses rondom die veilingsverbod betrokke is, die veilingsbedryf gevra om met voorstelle te kom oor hoe om veilings veiliger te maak in Suid-Afrika.
Vervoort sê dit is belangrik dat alle kopers van diere aandring daarop om dié diere se sertifiserings te sien, veral hul gesondheidsertifikate. Kopers moet ook seker maak waar die diere vandaan kom.
Hy het op 15 November tydens ’n paneelbespreking oor biosekerheid wat die nasionale dieregesondheidsforum, Hollard en die Landbouskrywers Suid-Afrika in Pretoria aangebied het, gesê die bek-en-klouseer-uitbreking in 2012 het Suid-Afrika sowat R6 miljard in inkomste gekos. As jy dit uitwerk volgens die diere wat boere aanhou, was dit ’n verlies van R300 per lewendehawe-eenheid.
Woesndagoggend het hy aan die span van Die Groot Ontbyt gesê dat hy verwag dat die bedryf se verliese vanjaar groter as dit kan wees.
*Die verbod is Woensdag, kort na Vervoort se onderhoud, in die Staatskoerant afgekondig. Klik hier om die dokument te sien.