
Die Landbouweekblad-skrywer Sean Christie het op vanjaar se CNN Multichoice Afrika-joernalis van die Jaar-geleentheid die Coca-Cola- prys vir ekonomiese en sakejoernalistiek ontvang. Hy het met die louere weggestap vir die artikel “Zim se tabaksukses ruik verdag” wat in Landbouweekblad, 19 Julie 2013, verskyn het.
Christie het homself onder meer as ’n bosboukundige voorgedoen om uit te vind wat regtig op Zimbabwe se tabakplase aangaan. Hy het bevind die kleinboere wat Zimbabwe se wit, kommersiële boere vervang het, het inheemse woude uitgekap vir hout om hul oeste mee te droog. Dit het tot die grootskaalse ontbossing gelei.
Die oplossing wat deur die bedryf en die regering voorgestel is, was om bloekomplantasies te plant. Nadat Christie met verskeie mense in die bedryf gesels het en op vertroulike bedryfsverslae afgekom het, het hy egter besef dié voorstelle is ’n bedrogspul.
Prof. Anton Harber, ’n lid van die beoordelingspaneel, het gesê: “Christie se artikel is ’n uitstekende voorbeeld van joernalistiek wat nie net verduidelik nie, maar ook verken. Dit kom met nuwe perspektiewe vorendag oor ’n belangrike kwessie. Dit is boeiende leesstof wat duidelik vertel word.”