
Die vernaamste damme in die Wes-Kaap is tans net sowat 75% vol. Verlede jaar dié tyd het die damvlakke op 97,2% gestaan. Theewaterskloof, die provinsie se grootste dam, het ’n jaar gelede oorgeloop met die watervlak wat op 101,2% gestaan het. Vanjaar is dit 76,4% vol. Ander damme wat aansienlik leër is as ’n jaar gelede, is die Voëlvleidam (63,1% teenoor 87,5%) en Wemmershoek (65,2% teenoor 97%).
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die groot waterskemas se damvlakke is ook op 63% heelwat laer as verlede jaar, toe dit op 77% gestaan het.
“Die weerkantoor het aangedui dat ons moontlik ’n ondergemiddelde reënseisoen gaan hê.”
Strydom sê die reën het vanjaar later gekom as vorige jare.
“Ons het nog baie min tot geen sneeu op die bergreekse gehad. Dit is ’n groot bron van wateraanvulling vir ons opvangsareas en opgaardamme.”
Volgens hom heers daar kommer oor droëlandgraanproduksie in veral die Swartland en Overberg.
“Minder gereelde reënval is vir ons ’n risiko, veral gegewe die hoër produksiekoste die afgelope seisoen. Dit is ook kommerwekkend dat die reën nog nie in die Klein-Karoo en noordweste van ons provinsie gekom het nie. In die besproeiingsareas, waar vrugteverbouing plaasvind, was daar nog nie betekenisvolle reënval om die damme te vul nie.”
Me. Tanith Freeman, produkontwikkelingsbestuurder by Dutoit-groep op Ceres, sê hulle het reeds besluit om eerder vrugteboorde as groentelande te besproei.
“Die Koekedouw-dam naby Ceres is nie eens 60% vol nie. Jy kyk hoeveel water jy het en hoeveel jy nodig het, en dan is dit belangrik om jou langtermynbate (vrugteboorde) op te pas.”
Volgens mnr. Keith Bradley, hoofbestuurder van landboudienste by Fruitways, is daar nie kritieke waterprobleme op Grabouw, Elgin, Vyeboom en Villiersdorp (die EGVV-gebied) nie.
“In ons area kos dit twee droë jare om probleme te veroorsaak. Theewaterskloofdam kan een somer oorleef, maar as ons nie verdere goeie reënval kry nie, sal dit ’n probleem raak as die volgende winter ook droog is. Ons tyd vir goeie reën vanjaar raak egter min.”
Freeman sê boere het baie geleer uit die vorige droogte om met minder water oor die weg te kom. Beleggings in tegnologie en ’n beter begrip van plantfisiologie, soos wanneer water ingekort kan word, sal deurslaggewend wees.
Landbou en stede deel dieselfde bron
Intussen het die Stad Kaapstad se direktoraat vir water en sanitasie inwoners gevra om mooi te dink oor hul waterverbruik in aanloop tot die somer, aangesien die huidige hidrologiese jaar se reënval, sowel as voorspellings vir reënval, ondergemiddeld is.
Mnr. Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, het onder meer die landbou bedank vir volgehoue waterbesparing.
“Die laer vraag na water was voordelig. Ons wil egter maan dat data in dié hidrologiese jaar ’n spieëlbeeld is van wat ons voorheen in droër jare ervaar het. Ons kan nie die moontlikheid van ’n opeenvolging van droër periodes uitsluit nie.”
Mnr. Wouter Kriel, woordvoerder vir mnr. Anton Bredell, minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning in die Wes-Kaap, sê meer as 100 000 mense trek jaarliks na die Wes-Kaap.
“Daar moet vir hulle ook voorsiening gemaak word ten opsigte van water. Daar is nie tans enige mega-damprojekte op die horison nie en die Clanwilliam-damprojek sukkel steeds om op dreef te kom.”
Kriel beklemtoon dat indringerplantegroei in opvangsgebiede en rivierlope verwyder moet word.
“Die Greater Cape Town Water Fund het bereken die Wes-Kaap verloor jaarliks sowat 55 miljard liter water aan indringers.”
Strydom sê hulle bly optimisties oor die volgende twee weke se vooruitskatting wat reën vir die provinsie betref.
Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens sal ’n intense koue front koue, nat en winderige toestande oor die Karoo-Hoogland veroorsaak oor die naweek. Daar is ’n kans op ligte sneeu op hoë spitse van die suidwestelike berge.