
Laat dit ’n les wees vir veeboere dat minder dieresiektes vanjaar op plase sou voorkom indien méér boere hul vee pligsgetrou ingeënt het. Dit geld veral vir siektes wat deur insekte en bosluise oorgedra word.
Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA), sê in sy Meiverslag oor veesiektes die siektes wat deur inenting voordat die somerreëns begin, voorkom kan word, is knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte, bloutong, Afrika- en Asiatiese rooiwater en Afrikaperdesiekte.
“Entstowwe is goedkoop in vergelyking met die behandeling van siek diere en vrektes wat voorkom. Dit is nou reeds tyd om ’n entprogram saam met ’n veearts op te stel sodat dit betyds vir volgende reënseisoen kan wees,” gee hy raad.
Weens die baie somerreëns is uitbrekings van Slenkdalkoors vanjaar verwag, maar gelukkig is die veeboere dié ellende gespaar. Malan sê dit beteken egter nie boere kan nou laat slaplê nie. Hulle moet ook die stryd teen beesbrusellose volhou deur verse volgens wet op tussen vier en agt maande ouderdom met stam 19- of RB 51-entstof in te ent.
Die webwerf van die Nasionale Dieregesondheidsforum (www.nahf.co.za) bevat handige inligting oor hierdie gevaarlikse siekte. Daar is ook inligting op www.landbou.com oor brusellose. Klik op Indeks van antwoorde en dan agtereenvolgens op Beeste, Siektes en Brusellose.
Die tabel som die siektes op wat gedurende Mei deur veeartse by RuVASA aangemeld is.
Inwendige parasiete
Dr. Alan Fisher in Queenstown en sy span in die Oos-Kaap was suksesvol om skape vir weerstand teen haarwurms te selekteer. Die gebruik van die FAMACHA-kaart, kondisietelling, eiermistelling en behandeling van geteikende diere (slegs dié wat volgens hierdie maatstawwe erge besmetting het) speel ’n sleutelrol.
Uitwendige parasiete
Gedurende die koeler maande is die larwes en nimfe van boslusie met meer as een gasheer volop en byt graag aan die diere se ore vas. In gebiede waar die bruinoorbosluis voorkom, moet vee in die winter gedip gebruik word om hierdie fases te beheer. Weerstand by bloubosluise teen veemiddelgroepe neem toe. Malan raai boere aan om raad by ’n veearts te vra oor hoe weerstand verminder kan word.
Bosluisoordraagbare siektes
Die winter is die beste tyd om vee teen Asiatiese rooiwater in te ent. Weer eens kan ’n veearts raad gee.
Insekoordraagbare siektes
Daar was ernstige uitbrekings van knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte en bloutong. “In die meeste gevalle was daardie vee nie vooraf ingeënt nie. Gevolglik het boere groot veeverliese gely. Dit sou nie gebeur het as hulle ‘n goeie gesondheidsprogram gevolg het nie,” sê hy.
Geslagsiektes
Nuwe gevalle van trichomonose word steeds elke maand by veeartse aangemeld en dié siekte is duidelik buite beheer. Malan pleit by veeboere om die nodige biosekerheidsmaatreëls te tref; onder meer deur bulle slegs by ander boere te koop wat sélf goeie biosekerheid toepas en hul bulle gereeld toets.
Bakteriese siektes
’n Verkoopsverklaring oor beesbrusellose is handig wanneer iemand vee op ’n veiling verkoop. Daarin verklaar die eienaar dat hy die nodige maatreëls tref om die siekkte uit sy kudde te weer, aangesien inenting nie noodwendig ’n waarborg teen die siekte is nie.
Virussiektes
Daar is geen behandeling teen virussiektes nie. Gevolglik moet vee met inentings beskerm word. RuVASA se verslag word maandeliks opgestel uit inligting wat van veeartspraktyke ontvang word. Die doel is om boere in te lig voorkomend te bestry en te let op diere wat met siektes en parasiete ingekoop word.