
Die uitvoer van leeubene na die Ooste om in tradisionele Chinese medisyne gebruik te word, kan in ’n ernstige bedreiging vir die wêreld se leeubevolking ontaard.
Só waarsku dr. Nobuyuki Yamaguchi, ’n bioloog en internasionale leeukenner van die Universiteit van Katar. Hy het op uitnodiging van die African Lion Working Group ’n lesing by die Vrystaatse Universiteit gelewer het.
Yamaguchi het in reaksie op ’n vraag oor die uitvoer van Suid-Afrikaanse leeubene daarop gewys dat daar in die tradisionele Chinese geneeskunde groot waarde aan tierbene geheg word. ’n Leek sal egter moeilik tussen leeu- en tierbene onderskei; en terwyl ál minder tierbene beskikbaar is, kan dit maklik gebeur dat leeubene as alternatief verhandel word.
China se groeiende bevolking en welvaart maak dié moontlikheid ’n al groter gevaar, het Yamaguchi gesê. Vrystaatse natuurbewaarders beraam dat daar al sowat 50 leeus se bene uit die Vrystaat na Oosterse markte uitgevoer is.
Noordwes en die Vrystaat
Uitvoer, hoofsaaklik uit die Vrystaat en Noordwes, is na wat verneem word aan die toeneem. Leeus is in Suid-Afrika ’n verklaarde kwesbare spesie. Om in leeubene handel te dryf, moet daar dus kragtens die regulasies vir bedreigde en beskermde spesies ’n permit verkry word.
Die twee provinsies se departemente van omgewingsake staan so ’n permit toe mits bewys is dat die dier as ’n trofee gejag is en nie net ter wille van sy bene doodgemaak is nie. Luidens ’n onlangse verslag deur die Departement van Omgewingsake aan die betrokke parlementêre portefeuljekomitee het Noordwes in 2008 twee permitte vir die uitvoer van leeubene uitgereik en verlede jaar vier.
In die Vrystaat is ses permitte in 2008 uitgereik en nege verlede jaar. Die verslag dui nie aan hoeveel leeukarkasse se bene elke permit verteenwoordig nie. Kommer heers in omgewingskringe sedert dit einde verlede jaar aan die lig gekom het dat die permitte toegestaan word.
Dit kom te midde van nuwe regulasies wat leeujag aansienlik inkort en waaroor leeuboere steeds met die Regering in ’n hofstryd gewikkel is. ’n Carte Blanche-televisieprogram oor die been-uitvoer is vroeër vanjaar uitgesaai waarin onder andere Dereck Joubert, ’n internasionaal bekende natuurlewe-filmmaker en bewaringsgesinde, sy teenkanting uitgespreek het.
Hy meen dit kan net onwettige handel aanstook.
Tradisionele gebruike van tierbene
Tierbene word in tradisionele Chinese medisyne gebruik om artritis en ander gewrigskwale te behandel. Die bene word onder meer in wyn geweek. Dit word algemeen aanvaar dat die handel in tierbene vir medisinale doeleindes ’n belangrike oorsaak was van die ernstige afname in tiergetalle in die 1980’s en 1990’s.
Vandag is tiere ’n bedreigde spesie, en dit word beraam dat daar maar so min as 2 000 vrylopende tiere in die wêreld oor is. Tierbene is sedertdien van die amptelike lys van tradisionele Chinese medisynemiddels verwyder en die Chinese regering het ’n verbod op die plaaslike verhandeling van tierbene geplaas.
Talle Chinese tradisionele genesers weier deesdae om tierbene te gebruik, maar is nie noodwendig gekant teen die gebruik van bene van alternatiewe spesies wat nie bedreig word nie. Mnr. David Newton, die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van Traffic, ’n internasionale netwerk wat die handel in natuurlewe monitor, sê niemand weet wat die omvang van die handel in leeubene uit Suid-Afrika is en of dit ’n ernstige kwessie is nie.
Gerugte daaroor doen al jare lank die ronde, maar daar is geen akkurate statistieke nie. Newton stem wel saam dat dit in ’n bedreiging kan ontaard. “Met die renosterhoring-handel wat heeltemal buite beheer is, moet ons hiervan bewus wees sodat dieselfde nie met leeubene gebeur nie,” sê hy.
Inkomste nie so goed
Mnr. Kobus van der Westhuizen, ’n leeuboer van Vierfontein, meen dat hy in dié stadium die grootste uitvoerder van leeubene uit Suid-Afrika is. Hy stem egter nie saam dat die twee markte vergelyk kan word nie.
Volgens Van der Westhuizen, wat leeubene opkoop van boere wat die diere laat jag het, is daar minder as R500 se wins uit ’n leeu se bene te maak. “Dit is net ’n storie dat jy R4 000 of R5 000 per kilogram kry. Dis dieselfde as met renosterhorings. Dié soort sensasie veroorsaak dat hulle al hoe meer gejag en gestroop word.”
Van der Westhuizen sê hy verskaf die bene aan een kliënt oorsee, maar wil nie dié kliënt se naam bekend maak nie. Hy weet nie hoeveel geld sy koper uit die bene maak nie en weet ook nie waarvoor dit gebruik word nie.
Mnr. Carel van Heerden, voorsitter van die Roofdiertelersvereniging van Suid-Afrika, sê ’n lewende leeu se waarde oortref die waarde van sy bene verreweg.
“Die geld wat hulle vir die bene kry, is nie naastenby in verhouding met die waarde van ’n leeu nie, tensy die leeu natuurlik deur ’n wildstroper gesteel en doodgemaak word,” sê Van Heerden.
30 September 2010