
Dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder van lewende hawe, afslaersdiens en eiendomme by BKB, sê die oplossings gaan ontwrigtend wees en van die tradisionele manier van doen afwyk.
Oberholster sê belanghebbendes beskou volhoubaarheid slegs as ’n ekologiese begrip, wat meebring dat die ekonomiese en maatskaplike aspekte van lewendehaweproduksie gemarginaliseer word.
“Volhoubaarheid in die vleisvoorsieningsketting hou verband met die natuurlike omgewing (onder meer biodiversiteit en dierewelsyn), maar ook met gehaltestandaarde, korporatiewe en maatskaplike verantwoordelikheid en ekonomiese lewensvatbaarheid.”
Volgens Oberholster is die plaaslike lewendehawebedryf betreklik klein teenoor die wêreldproduksie met plaaslike vlakke wat nie sommer sal verdubbel nie. “Ons is toenemend besig om ’n nismarkbaadjie aan te trek,” sê hy. “Nismarkte bied weliswaar groter winsmarges, maar dit plaas ook toenemend die kollig op die verbruiker wat aspekte soos naspeurbaarheid, gehalte en voedselveiligheid uiters belangrik maak.”
Hy sê belanghebbendes sal in wetenskaplike navorsing moet belê om die bedryf te ondersteun en tegnologie inspan om die verbruiker in te lig en te beïnvloed.
Die bedryf se volhoubaarheid hang ook af van die regstelling van ’n gebrek aan vertroue in die lewendehawevoorsieningsketting. Dit behels dat voerkrale net sal oorleef as die aankoper weet wat hy kry, telers kan net ingeligte besluite neem as hulle betroubare terugvoer kry, en die verbruiker sal meer koop as hy of sy ’n goeie eetervaring beleef en die produk se voordele verstaan.
Volgens Oberholster sal groter deursigtigheid in die bedryf slegs verkry kan word deur die digitalisering van die voorsieningsketting van die lam of kalf se geboorte tot op die verbruiker se bord.