
“Die inspekteurs van die NDBV het hul samewerking gegee, maar senior lede van die organisasie was met opset ontwrigtend,” sê mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap.
Volgens Stern het die NDBV nie sy mandaat met die jongste vrag gevolg nie. “Die oorsig van die hantering en welstand van die diere was nie die topprioriteit van die NDBV se leierskap nie. Hulle het afbrekende mediaveldtogte aangepak en onverwante, ou beeldmateriaal gebruik om die bedryf swart te smeer.”
Stern benadruk dat Agri Oos-Kaap die oorsigrol van die NDBV met die verskeping van die vee waardeer en glo dat die organisasie ’n belangrike rol speel om diere te beskerm en te verseker dat die welstand van diere altyd ’n prioriteit is.
“Agri Oos-Kaap moedig dus die NDBV aan om klem te plaas op dringende sake in die provinsie, soos die barbaarse wyse waarop veediewe in die Oos-Kaap diere slag. Ons glo dat dit ’n baie beter aanwending is van hulpbronne as om te konsentreer op prosesse en prosedures wat gereguleer en gemonitor word deur individue wat omgee vir hierdie diere.”
Tevrede
Agri Oos-Kaap sê hy is tevrede met die manier waarop vee met Al Mawashi se vierde verskeping na die Koeweit in die Midde Ooste gelaai is. Klik hier om meer te lees oor die verskeping (bit.ly/3x5UrnW).
Dié organisasie en die Oos-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie was op die hawe en het oorsig gehou oor die hele proses van begin tot einde om te verseker dat die regte prosedures te alle tye gevolg is, sê Stern.
“Dit sluit die laai van die vee by die voerkraal, die vervoer na die hawe en die finale laai op die skip in.” Staatsveeartse, asook veeartse en inspekteurs van die NDBV was teenwoordig tydens die proses.
Die organisasie het onderneem om ’n geskrewe verslag aan Al Mawashi te gee rakende sy waarnemings tydens die proses en moontlike verbeteringe wat aangebring kan word tydens die laaiproses, om sodoende raad te verskaf om die prosedures meer vaartbelyn te maak.
“Die verslag sal in detail met Al Mawashi bespreek word. Die staatsveeartse en die NDBV sal genooi word om aan die besprekings deel te neem.”
Volgens Stern geniet dierewelstand voorkeur by Agri Oos-Kaap en is dit die organisasie se doelstelling om te verseker dat lede trots is op die manier waarop diere na omgesien word tydens die prosesse.