
“Opbrengste uit dié aanbod sal gebruik word om ’n deel van Libstar se derdepartyskuld af te betaal, en daardeur groter vloeibaarheid skep vir Libstar om sy groeistrategie na te streef,” sê Libstar in sy aankondiging van die notering op die JSE-nuusdiens.
Libstar het oor die afgelope paar jaar etlike suksesvolle kosmaatskappye oorgekoop met gevestigde verhoudings op die mark, soos Finlar, wat al sedert 1994 vleis en hoender aan McDonald’s verskaf, en drie groot verskaffers aan Woolworths, naamlik Ambassador Foods, Amaro Foods en Rialto Foods.
Verlede jaar het hy die meerderheidsaandeel in die Wes-Kaapse melkery Sonnendal bekom, asook die rooibosteeverpakker en -uitvoerder Khoisan Tea.
Die meerderheidsaandeelhouer is die Doebaise beleggingsmaatskappy APEF Pacific Mauritius Limited (Abraaj), met 70,93%. Die Openbare Beleggingsmaatskappy (OBK) besit 19,36% namens die Regering se pensioenfonds, en Libstar se bestuur besit die orige 9,71%.
Die maatskappy beoog om ook voor die notering van sy aandele in ’n bemagtigingstransaksie aan ’n werknemerstrust te oorhandig en ’n trust om ondernemings in swart besit binne die Libstar-waardeketting te versterk.
Groot spoor
Die maatskappy besit ’n groot aantal koshandelsmerke, onder meer Lancewood, Denny, Goldcrest, Cape Herb and Spice, Robertsons en Safari. Hy verskaf bestanddele aan die restaurantgroepe McDonald’s, KFC, Nando’s, Panarotti’s, Mugg & Bean en Spur en lewer en verpak produkte vir Woolworths, Spar, Checkers en Pick n Pay se binnenshuise handelsmerke. Verder verteenwoordig Libstar ook etlike internasionale handelsmerke in Suid-Afrika, soos Kiri, Laughing Cow, Lurpak, Tabasco en Kikkoman.
Libstar sê sy aanvanklike doelwit vir dividend-uitbetalings sal tussen 30% en 40% van pro-forma winste ná belasting wees, maar sal afhang van die direksie.
Die maatskappy het 35 produksiegeriewe, meer as 200 produksie-en-verpakkingslyne en 75 vervaardigingstegnologieë oor sy sake-eenhede.
Hy roem hom ook daarop dat ’n aantal van die stigters van kosmaatskappye wat hy oorgekoop het steeds vir hom werk.