Die nuusdiens Bloomberg sê pryse het só hoog begin styg dat boere wêreldwyd begin terughou het op aankope en dit het die mark laat omswaai. Voorrade is besig om op te bou in Noord- en Suid-Amerika, skepe wag om voorrade af te laai en maatskappye sukkel om kunsmisvoorrade in hul pakhuise te verminder.
Kommer dat Rusland uitvoer sou stopsit, het ook nie gerealiseer nie. Aankope van kunsmis is vrygestel van die sanksies deur Amerika en die Europese Unie oor die inval in Oekraïne. Bloomberg sê die Amerikaanse regering moedig selfs landbou- en verskepingsmaatskappye aan om invoer uit Rusland te verhoog.
Pryse in Noord-Amerika is nou die laagste sedert Januarie en volgens ’n indeks vir die vasteland is dit 35% laer nadat dit bykans ’n rekordhoogtepunt einde Maart bereik het.