
Volgens die polisie is inligting ontvang oor verdagtes in ’n wit Ford Ranger-bakkie wat na bewering op Sondag 22 Januarie koperkabels op ’n plaas in die omgewing gesteel het.
Die polisie het saam met boere van die omgewing met ’n soektog begin en die bakkie opgespoor. Die bakkie, met vier manlike insittendes, is deursoek. Hulle is in hegtenis geneem nadat hulle nie kon verduidelik waar hulle die koperkabels wat in die bakkie gevind is, gekry het nie.
Voorlopige ondersoeke het aangedui dat die gesteelde kabels vir Northam RDP Section bestem was. Die polisie het na die onderneming gegaan en afgekom op ’n 42-jarige vrou wat ’n aankoper van koper is, asook twee mans met sakke vol koperkabels, badkamerkrane en Transnet-koperdrade.
Die vrou het erken dat sy onwettig handel dryf met koperkabels en al drie die verdagtes is in hegtenis geneem.
Die verdagtes, almal tussen die ouderdom van 29 en 46, sal binnekort in die Northam-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde eiendom ter waarde van R250 000.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.