
Boere in Limpopo skarrel tans om oeste te probeer red en paaie te herstel nadat oorstromings die provinsie getref het.
Mnr. Dries Enslin, voorsitter van Agri Letaba, sê hoewel baie boere moontlik eers volgende week sal weet hoeveel skade hulle gely het, verwag hulle groot skade aan mango-oeste.
Enslin sê die Hoedspruit-omgewing het in 24 uur sowat 500 mm reën gehad. Volgens die Lugmag is dinge baie chaoties in dié omgewing en almal probeer krisisbestuur toepas om mens en dier veilig te hou.
“Die meeste van die mangoboere is nou net mooi in die middel van hul oestyd, so ons verwag groot skade daar. Wat wildsplase betref, het die boere skade weens gebreekte plaasdamme, verspoelde wildheinings en sommige van hul diere kon ook verdrink het,” aldus Enslin.
Kragprobleme
Intussen sê mnr. Braam van der Merwe, wat net buite Hoedspruit met mango’s boer, sy grootste bekommernis is dat hulle nie krag op die plaas het nie.
“Dit beteken dat ons koelkamers nie werk nie, en dit is waar ’n groot gedeelte van ons oes gehou word aangesien die vragmotors nie kan ry nie. Net die groot Blyderivierbrug is oop.”
Van der Merwe sê dit reën wel nie vandag nie. “Die wind waai en die son skyn, so ons hoop die wêreld kan gou droog word sodat ons weer in die boorde kan kom om te oes.”
In ander dele van Limpopo, naby Tzaneen, Gravelotte en Letsitele, het tussen 150 mm en 250 mm in ’n kwessie van 24 uur geval. Enslin sê boere meld nie groot skade aan nie, maar paaie is wel onbegaanbaar.
Mpumalanga
Mpumalanga Landbou sê boere in dié provinsie het nog nie groot skade aangemeld nie. “Baie van die ouens naby die Krokodilrivier moes inderhaas hul besproeiingspompe onttrek, maar nog geen groot skade is aangemeld nie,” aldus mnr. Abraham van Veijeren, ondervoorsitter.
Intussen sê mnr. Henk van den Graaf, woordvoerder vir die TLU SA, hulle het hul lede in die provinsies gevra om enige skade aan te meld. “Ons is nog nie in kennis gestel van groot skade nie, maar wat ons ervaar, is dat baie van ons lede steeds van die buitewêreld afgesny is en nie geredelik kan kommunikeer nie.”
19 Januarie 2012