Veldbrande is besig om verwoesting in Limpopo te saai.
Die brande woed in die sentrale Thabazimbi-omgewing, sowat 190km noordwes van Pretoria en het reeds die helfte van die Marakele Nasionale Park afgebrand, sê mnr. Kobus Visser, provinsiale grondoperasie-bestuurder van Working on Fire (WoF).
“Die brande is onder beheer, maar nie gestuit nie,” sê Visser. “Baie warm temperature van tot 38?C en sterk winde het die ideale omgewing vir wegholbrande geskep.”
Meer as 80 000 ha veld in die Thabazimbi-omgewing is reeds
sedert Vrydag (8 Oktober) verwoes, terwyl 250 brandbestryders poog om die vlamme te bestry. Sowat ‘n 100 leerling-polisiemanne bied ook bystand.
WoF het reeds twee helikopters en ‘n vliegtuig, wat die vlamme moet dophou, afgevaardig om bystand te bied.
Die weermag het ook twee Oryx-helikopters beskikbaar gestel. Die situasie word vanuit die insident-beheersentrum, wat op die Polisie se opleidingsterrein by Verdrag geleë is, bestuur. “Dié benadering van ‘n enkele fokus is internasionaal en plaaslik al telkemale suksesvol gebruik met veldbrandbestryding,” sê Visser.
Buiten vir die vyf brandbestrydingseenhede van WoF, wat elkeen uit 24 brandslaners bestaan, is nog ‘n eenheid na die brand ontplooi. Volgens me. Santjie du Toit, ‘n WoF-weerkundige, sal temperature hoog bly vir die volgende twee dae.
Brandbestryders hoop dat Woensdag en Donderdag se voorspelde donderbuie die temperatuur sal laat daal, sê Visser. “Dit sal egter net kort buie wees, terwyl die wind tot so sterk as 30km/h kan waai.”
‘n Ondersoek na die oorsaak van die brand sal volg sodra dit geblus is.
12 Oktober 2010