
Daar is net-net genoeg water in die Tzaneendam om die Letaba-stelsel stroomaf te balanseer, danksy water wat uit die Ebenezerdam gelaat word.
Die Tzaneendam, wat die hoofwaterbron vir boere in die Tzaneen- en Letsitele-omgewing is, is net 12% vol en word kunsmatig bo die 10%-merk gehou met water wat daagliks uit die Ebenezerdam sowat 30 km stroomop gelaat word.
Die watervlak word noukeurig deur Kruger bestuur. Dit is ’n fyn balans, sê hy, want as die vlak van die Tzaneendam tot onder 10% daal, mag daar nie meer water vir die landbou uit die stelsel onttrek word nie. Hy kan ook nie te vinnig te veel water uit Ebenezerdam laat nie, want die Tzaneendam se groot oppervlak en effe warmer klimaat bring vinniger verdamping mee as by die Ebenezerdam, wat onlangs nog 56% vol was.
Boonop is die Ebenezerdam aansienlik kleiner met net ’n derde van die Tzaneendam se bakinhoud. “Ons hou dus die water wat ons het op die hoogste vlak wat ons kan beheer, waar die verdamping en ander verliese die minste is,” sê Kruger.
Benewens die huishoudelike reserwe van 10% wat vir die Tzaneen-munisipaliteit beskikbaar moet wees, moet Kruger volgens wet ook sorg dat daar ’n ekologiese reserwe van 0,41 kubieke meter water per sekonde in die Letabarivier by die oostelike grens van die Krugerwildtuin invloei.
Groot verliese
Dit is egter nie so eenvoudig as om ’n ekstra 0,41 kubieke meter per sekonde uit die Tzaneendam te laat nie. Daar is ’n verlies van tussen 25% en 30% net tussen Ebenezer en Tzaneen, en tussen Tzaneen en die wildtuin verloor die stroom nog 36% tot 58% van sy water.
“Die ekologiese onttrekking plaas die Tzaneendam tans onder risiko,” sê Kruger. Hy meen die enigste raad gaan wees om aansoek te doen dat die ekologiese reserwe tydelik verlaag word. Die landbousektor doen reeds meer as wat verwag word om druk op die stelsel te verlig.
Hy sê dat daar elke April ’n evaluasie van die waterbronne gedoen word. Die huidige damvlakke, vloeitempo van riviere en klimaatneigings word in ag geneem om die waterbeskikbaarheid vir die volgende jaar te bepaal.
“Daar is vanjaar besluit om die toewysing vir huishoudelike gebruik uit Tzaneendam te beperk tot 80% van die gewone toewysing en vir die landbou tot 45%. Boere het egter self ingestem om net 30% van hul gewone onttrekking te gebruik. As hulle dit nie gedoen het nie, was die dam teen einde Junie leeg,” sê Kruger.
Benewens die afloop na Tzaneendam word geen water vir die landbou direk uit Ebenezerdam onttrek nie. Die Polokwane-munisipaliteit onttrek wel water uit dié dam omdat die stad se infrastruktuur by die Olifantsrivier te vervalle is.
Intussen steun boere swaar op boorgate om die volgende seisoen se oeste aan hul avokado-, sitrus- en makadamiabome te kry. Die meeste boere in die omgewing besproei nou net die helfte of selfs minder van hul boorde vir ’n oes en het ander bome se water verminder tot waar dit net aan die lewe gehou word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.