
Issacs sê die proses sal begin met die hersiening van die toepassings van vorige hersienings wat gedoen is en belanghebbendes sal aan die proses deelneem. Die medium- tot langtermynplanne sal gesentreer wees op die uitkomste vir die volgende vyf jaar waartoe die entiteit hom verbind het.
Me. Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal (OG), het vroeër vanjaar uitgelig daar word baie keer op die probleme by groot instellings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens gekonsentreer en die kleiner instellings raak verlore in die gesprek. Die kantoor van die OG het al reeds die afgelope paar jare die finansiële gesondheidsrisiko by heelwat van die kleiner instellings uitgelig en gesê hulle sal dalk ’n kapitaalinspuiting van die provinsiale of nasionale regering moet kry.
Solvent
Die LNR se geldnood is vroeër jare aangevuur deur begrotingsbesnoeiings, dermate dat die OG sy likiditeit in 2019 bevraagteken het. In Februarie daardie jaar het die LNR-raad ’n volhoubare omkeerplan goedgekeur sodat die entiteit sy finansiële posisie kon verbeter.
Dr. Shadrack Moephuli, voormalige uitvoerende hoof van die LNR, dui in die 2020-’21-jaarverslag aan dat die instelloing sedert 31 Maart 2021 as solvent geag word, want sy bates oorskry sy laste met R2 miljard. Moephuli het ná 15 jaar aan die stuur die instelling op 31 Julie verlaat. Dr. Hilton Vergotine neem waar as president en uitvoerende hoof van die LNR.
Volgens die likiditeitsbepaling wat gedoen is, sal die LNR sy finansiële verpligtinge kan nakom en in die voorsienbare toekoms as ’n lopende saak kan voortgaan. Die instelling en het weer ’n gekwalifiseerde opinie van die OG gekry.