Amptenare wat die Landbounavorsingsraad (LNR) van miljoene besteel het, is vervolg en van die geld is reeds teruggekry.
Dié inligting is vervat in die LNR se jaarverslag vir die 2009/’10-geldjaar wat in die Parlement ter tafel gelê is. In die verslag word aangedui dat ‘n senior rekenmeester tjekbedrog gepleeg het van meer as R5,8 miljoen.
Strafregtelike klagte is teen die amptenaar aanhangig gemaak. In die 2009/’10-geldjaar is die volle bedrag teruggekry toe op die rekenmeester se bates beslag gelê is.
‘n Voormalige administrateur het ook fiktiewe uitgawes van valse maatskappye ingedien en soms is die ware uitgawes onnodig opgejaag. Die uitgawes het net meer as R204 000 beloop. Die LNR is luidens die verslag in ‘n proses om strafregtelike klagte teen die voormalige administrateur aanhangig te maak.
‘n Ander voormalige administrateur vir die betaalstelsel word ook verdink van die aktivering van werknemers wat nie meer in diens van die LNR is nie. Luidens die verslag het dié administrateur die bankbesonderhede van die voormalige werknemers verander na dié van mense wat onbekend aan die LNR is.
Altesaam R340 380 is in die rekeninge betaal waarvan die organisasie net meer as R40 973 al kon terugkry. Strafregtelike klagte is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanhangig gemaak en die ondersoek is aan die gang.
‘n Ligpunt vir die LNR is dat hy ‘n skoon ouditverslag van die ouditeur-generaal (OG) gekry het. Die OG het egter die organisasie se nalatigheid ten opsigte van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) beklemtoon.
Onreëlmatige uitgawes van meer as R3,2 miljoen het voorgekom omdat die beleid vir verskaffingskettingsbestuur nie gevolg is nie. Die tekort aan doeltreffende, voldoende en deursigtige stelsels en interne kontrole rakende werkverrigtingbestuur is ook uitgelig.
Inkomste wek kommer
Dr. Shadrack Moephuli, uitvoerende hoof van die LNR, sê in die jaarverslag dat ‘n tien jaar-hersiening van die organisasie se finansies aandui dat die hoofbron van inkomste sy parlementêre toelaag is. Die toelaag word van die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye gekry en ‘n kleiner bedrag van die Departement van Wetenskap en Tegnologie.
Die afgelope vyf jaar het die toelaes met net 5% jaarliks gestyg, wat laer is as die gemiddelde inflasiekoers vir dieselfde tydperk. Die grootste gedeelte van die toelaag, sowat 92%, word vir personeelkoste gebruik wat die LNR dwing om ander bedryfskoste deur inkomste van kontrakte te finansier.
Die uitwerking van dié onderbelegging is dat vaardige personeel nie kan behou en personeel nie gewerf kan word nie.
Moephuli waarsku dat as dit so volhou die LNR nie sy volle mandaat op die lange duur sal kan uitvoer nie.
7 Oktober 2010