
Terwyl alle boeregemeenskappe en landboubesighede daarna streef om produktiwiteit op hul plase te verbeter, is sommige boere se uiteindelike doel om hul produkte na uitvoermarkte te stuur, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz. Om dié doel te bereik, hang nie egter nie net af van doeltreffendheid nie, maar ook van handelsooreenkomste met ander lande en die doeltreffendheid van die logistieke infrastruktuur.
Verlede jaar was die kuberaanval op Transnet, vandalisme van spoorweë, die swak padnetwerk wat deur erge reën verder beskadig is, en onbekwaamheid by die hawens op verskeie tydstippe volgens hom van die bedreigings vir Suid-Afrika se pogings om landbou-uitvoer te bevorder.
SAMEWERKING
Sedertdien is daar noue samewerking tussen die landbousektor, -besighede en Transnet ten einde te verseker dat bederfbare produkte so doeltreffend moontlik uitgevoer word deur doeltreffendheid by die hawens te verbeter. Dit strook volgens Sihlobo goed met die landbousektor se strategie om produksie wat vir die uitvoermark bestem is, ’n hupstoot te gee.
Dié samewerking sedert verlede jaar se onluste en kuberaanval op die hawens het ook vrugte afgewerp wat uitvoervolume en -waarde betref, sê Sihlobo. Volgens Trade Map se syfers het die waarde van landbou-, kos- en drankuitvoer gedurende die laaste kwartaal van 2021 op ’n jaargrondslag met 18% tot $2,8 miljard toegeneem. Dit beteken dat die waarde van Suid-Afrika se landbou-, kos- en drankuitvoer verlede jaar ’n rekordvlak van $12,4 miljard bereik het.
Die topuitvoerprodukte sluit wyn, mielies, sitrus, neute, bessies, druiwe, wol, vrugtesap, appels en pere in. Volgens Sihlobo is die besonder goeie produksiejaar wat die landbousektor in 2020-’21 beleef het, asook goeie globale vraag, hoë pryse en groot uitvoervolumes hiervoor te danke. Spesifiek mielies het die hoogste uitvoervolume sedert 1994-’95 behaal en sitrus het ’n rekorduitvoervolume behaal.
Afrika en Asië was gedurende die vierde kwartaal van 2021 die grootste markte vir Suid-Afrika se landbou-uitvoer. Ten opsigte van waarde is onderskeidelik 45% en 23% van die landbou-uitvoer na dié lande uitgevoer. Die Europese Unie is die derde grootste mark en het 16% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer opgeneem. Sowat 6% van die landbou-uitvoer was vir Brittanje bestem, met 10% bestem vir Amerika en ander gebiede wêreldwyd.
Hoewel logistieke probleme ’n finansiële implikasie gehad het, het samewerking volgens hom die vloei van produkte en verdienste uit uitvoer verseker.
INVOERE
Doeltreffende logistiek is nie net belangrik vir uitvoer, maar ook vir invoer aangesien Suid-Afrika van ander lande afhanklik is vir belangrike voedselprodukte soos koring, rys, pluimvee, palm- en sonneblomolie. Dié produkte kan volgens hom weens klimaatstoestande nie op groot skaal volhoubaar in Suid-Afrika geproduseer word nie.
As gevolg hiervan is voedselprodukte ter waarde van $1,8 miljard gedurende die vierde kwartaal van 2021 ingevoer. Dit verteenwoordig op ’n jaargrondslag ’n toename van 9%. “Ons verwag dat rys, koring, sonneblom- en palmolie in 2022 steeds die vernaamste produkte op die lys van landbou-invoer sal wees,” sê Sihlobo.
In totaal het Suid-Afrika danksy goeie uitvoer ’n handelsoorskot van $1 miljard in die vierde kwartaal van 2021 behaal, ’n 36%-toename vergeleke met die ooreenstemmende periode in 2020.
BELEID
Probleme met Suid-Afrika se hawens en spoorweë sal volgens hom aanhou om ’n struikelblok vir uitvoer te wees. Daarom moet samewerking met Transnet voortgesit word om struikelblokke uit die weg te ruim en gesamentlike investering in langtermyn-infrastruktuurbehoeftes te verken.
Sihlobo sê die Suid-Afrikaanse regering en die verskillende landboubedrywe moet ook verhoudings met bestaande uitvoermarkte behou, terwyl daar werk gemaak word om toegang tot nuwe markte te bekom. China, Japan, Indië, Saoedi-Arabië en Bangladesj is volgens hom die markte waarby die landbousektor die meeste sal baat vind.