
Agri Noord-Kaap het met groot teleurstelling kennis geneem van die verhoging.
Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê in sy reaksie op die aankondiging dat die “skokgolf” van die 16%-verhoging die toename in ekonomiese groei wat die landboubedryf tydens die inperkingstyd bewerkstellig het, ongedaan kan maak.
Volgens Jansen wissel boerderye in die Noord-Kaap van ekstensiewe veegebiede met betreklik lae indiensneming tot intensiewe besproeiingsgebiede wat produkte vir die uitvoermark lewer.
“Die landbou-ekonomie het die afgelope twee kwartale goeie groeisyfers getoon en was die enigste bedryf wat tydens die streng inperkingstydperk ekonomiese groei kon behaal,” sê hy. “Agri Noord-Kaap sou graag wou sien dat dié groei in die landboubedryf voortgesit kon word en dat dit weerspieël word in die indiensnemingsyfers van die bedryf en die besoldiging van werkers.
“Dus is Agri-Noord-Kaap van mening dat ’n verhoging tot die nasionale minimum loon vir plaaswerkers teen ’n inflasiegekoppelde koers plus 1,5% tot 2% hierdie momentum sou kon voortsit, wat beter indiensneming en besoldiging sou bewerkstellig,” sê Jansen.
Nou sal produsente hul somme moet herbereken oor die vraag van verhoogde meganisering.
“Daar sal opnuut herbesin moet word oor hoe die doelwitte van verhoogde indiensneming in die landbou bereik kan word om te verseker dat ons nie teenproduktief te werk gaan met aankondigings oor besluite wat op kort termyn voordelig is, maar op lang termyn groter nadele vir die land se ekonomie, werkloosheid en indiensnemingsyfers tot gevolg het nie.”
Volgens me. Heloïse Denner van die VF Plus dwing die staat die maksimum betaling op die private sektor af, maar sien homself oor.
Dié party meen dat alle werkers in Suid-Afrika billik behandel moet word en dit sluit regverdige betaling in, maar deur werkgewers se kele af te sny met buitensporige verhogings en groter werkloosheid as gevolg daarvan te veroorsaak, oorskry die lyn van ekonomiese volhoubaarheid.
Die verhoging van die nasionale minimum loon dra nie tot ’n gunstige omgewing vir die private sektor by nie. Dit sal veroorsaak dat ondernemings hul deure moet sluit met die gepaardgaande verdere werksverlies.