
Gehoor is gegee aan pleidooie vir lugsteun om die brande te help bestry wat sedert Donderdag derduisende hektare weiding en verskeie plaashuise tussen Kuruman en Daniëlskuil verwoes het. Helikopter en twee vliegtuie help vandag (Sondag).
Me. Janine Byleveld, bedryfsbeampte vir natuurlike hulpbronne by Agri Noord-Kaap, sê die helikopter word deur die provinsiale regering voorsien en die vliegtuie vir lugbespuiting deur Protech. “Hoewel die brande voortduur, is dit nie meer heeltemal buite beheer nie.
“Ons is van Agri Noord-Kaap se kant af besig om voorbereiding te tref om te help om voer te verskaf en dit te vervoer na die punte waar dit die nodigste is.
“Ons het reeds ses vragte voer gekry wat van môre af versprei sal word om die onmiddellike nood te help verlig. Twee van die vragte kom van die departement van landbou se proefplaas af en die ander het ons aangekoop met skenkings wat ons deur die Agri Noord-Kaap-stigting ontvang het.”
Mnr. Willie Aucamp, DA-LP vir die Kalahari, sê hy hoop dat die lugsteun ’n daadwerklike bydrae sal lewer om die vlamme te help blus. “Daar is betaal vir so vier ure se spuittyd en ons het ’n versoek aan die departement van landbou gerig om te kyk of nog geld beskikbaar gemaak kan word.”
Hy sê die brande woed steeds in die driehoek tussen Kuruman, Kathu en Daniëlskuil. Op plekke brand die vlamme baie hoog en daar is baie koppe, wat dit moeilik maak om die brande met voertuie te bestry. “Die helikopter help beslis in hierdie omgewing.
“Daar is nog geen raming oor die omvang van die skade nie maar dit is werklikwaar enorm. Vir elke boer, lid van ’n brandbestrydersorganisasie en gemeenskapslede wat bystand verleen, wil ons baie dankie sê. Dit wys jou hoe ’n gemeenskap in nood kan saamstaan.”
Mnr. Jan Joubert, voorsitter van Agri Kuruman, wat op die grond met die bestryding gemoeid is, sê die lugsteun help veral baie in die rante.
“Daar is nie maar lang brandlyne nie. Dit is nou kleiner stukkies waar dit kan opvlam en wat opgepas moet word. Dit is egter nog te vroeg om te sê of alles onder beheer is. Ons sit met ’n oostewind en as dit sterker waai, kan dit die brande weer aanspoor.”
Joubert, wie se plaas ook afgebrand het, sê die brande het oor twee munisipale distrikte gestrek en daar is vier brandbeskermingsverenigings by die bestryding betrokke. Dit sluit in die verenigings van Kuruman, MacMac, Koopmansfontein en Daniëlskuil, sowel as myne en ander ondernemings wat gehelp het met toerusting, water, diesel, skenkings en voedsel. Daar was meer as 100 spanne betrokke.
“Van môre af (Maandag) sal ons skade probeer beraam. Ek het nog nie gehoor van baie diere wat doodgebrand het nie. Ek weet daar het huise gebrand, maar die area is baie groot. Die grootste skade is seker aan weiding, waterpype en ander infrastruktuur wat verwoes is. Vir nou moet ons veral voer vir diere in nood kry.”