Suid-Afrika het teen die einde van 2022 op hete kole gewag vir uitsluitsel oor die tariefverhogings waarom Eskom vir 2023-’24 by die nasionale energiereguleerder (Nersa) aansoek gedoen het. Indien dit goedgekeur word, sal ’n styging van 32% in die gemiddelde koste van elektrisiteit op 1 April in werking tree.
Volgens mnr. Harold Burgess, besturende direkteur van Dabar Energie, gaan dit vanjaar waarskynlik die grootste faktor in boere se besluitneming oor hernieubare energie wees.
Verskeie landbouleiers het reeds hul kommer oor die voorgestelde verhogings uitgespreek met party wat selfs waarsku dat dit voedselproduksie in die gedrang kan bring. Burgess het egter die nuwe tariefstrukture bekyk wat Eskom in sy aansoek voorstel, en sê dit bied ook geleentheid vir boerderye om te bespaar.