
Suid-Afrika moet hidrobreking anders as Amerika aanpak deur die proses deursigtig te maak. Só het van die sprekers by 'n simposium oor sogenaamde onkonvensionele gas in Pretoria gesê.
Die grondwaterafdeling van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika en die mynwaterafdeling van die Waterinstituut van Suider-Afrika het dit met die steun van die Waternavorsingskommissie gereël.
Mnr. Fanie de Lange van die Instituut vir Grondwaterstudies aan die Universiteit van die Vrystaat het gesê daar is baie kritiese inligting oor hidrobreking beskikbaar, “maar dit is in die argiewe van oliemaatskappye” en nie by navorsings- of akademiese instansies nie.
Sowel hy as me. Christine Colvin, senior varswaterbestuurder by die Wêreldnatuurfonds (WWF), het verwys na hofsake teen oliemaatskappye in Amerika wat buite die howe geskik is en waar vertroulikheid deel was van die skikkings.
De Lange het ná die tyd aan Landbouweekblad gesê die maatskappye weerhou dalk inligting omdat tegnologie rakende hidroliese breking sodanig kan verander dat dit wat vandag beskikbaar gestel word, nie meer relevant is wanneer hulle wel toestemming kry om voort te gaan nie.
“Dit is te verstane, maar oliemaatskappye moet ook besef dat enige weerhouding van inligting hul beeld nie goed doen nie en dat 'n algemene persepsie van oneerlikheid daaraan kleef.”
De Lange is verder bekommerd dat die Departement van Minerale Hulpbronne se voorgestelde regulasies te algemeen en vaag is en ruimte vir “kreatiewe interpretasie” laat.
Volgens Colvin is verskeie lesse te leer uit wat elders met hidrobreking gebeur het. So word onkonvensionele gas nie noodwendig meer as “skoner” beskou nie. Die Internasionale Energievereniging het in 2011 beraam as skaliegas volgens behoorlike standaarde van omgewingsverantwoordelikheid ontgin word, word effens meer koolstofdioksied vrygestel as met konvensionele gas.
Volgens haar was daar mense in Amerika wat vinnig geld uit die verhuring van hul grond gemaak het, maar toe die gas 'n paar jaar later uitgeput was, was hul koste om die omgewing te herstel meer as die huurgeld.
Sy sê wanneer besluite oor hidrobreking geneem word, moet gevra word of staatsgeld bestee moet word op infrastruktuur wat “vir vyf of ses jaar” voordele kan bied, met 'n moontlike verwoestende invloed op die ekologie, teenoor projekte vir hernieubare energie op lang termyn.