
’n Ministeriële komitee behoort aangestel te word om aan landbou-opleiding se dringende en ernstige probleme aandag te skenk.
Dít is een van die aanbevelings van ’n paneel van die Akademie vir wetenskap in Suid-Afrika (Assaf) in die verslag Revitalising Agricultural Education and Training in South Africa. Die elf lede van die paneel verwys onder meer daarna dat landbou nie ’n gewilde eerste keuse as beroepsrigting is nie.
Daar is boonop min bewustheid van die groot aantal landbousake- en entrepreneurskapsloopbane in die voedsel- en voedingswaardeketting. Oor die landbou-opleidingstelsel sê die paneel daar is baie onsekerhede oor landboukolleges en hulle beveel aan die stelsel moet hervorm word sodat daar beter integrasie, samewerking en aanspreeklikheid kan wees om die beskikbare geld, mense en infrastruktuur ten beste te kan benut.
LEES OOK: Pasop vir ‘Vaal Landbou Kollege’-bedrog
Leerplanne
Die paneel sê daar is ’n groot behoefte aan goeie opvoeders met die regte kwalifikasies en noem ook dat die profiel van akademici in hoër onderwys in 2014 nog hoofsaaklik wit was. Oor leerplanne sê die paneel dat daar hoofsaaklik aan primêre produksie aandag gegee word, terwyl vaardighede vir die landbou-voorsieningsketting uit ’n wyer reeks dissiplines kom.
“Daar is ’n dringende behoefte aan groter relevansie in die leerplanne.” Die paneel beveel aan dat die opleiding van voorligtingsbeamptes baie aandag behoort te kry omdat hulle potensieel die hoofagente kan wees deur wie vernuwing vanaf laboratoriums na die praktyk oorgedra kan word.
Finansiering
Soos in die res van die onderwysstelsel is finansiering ook in landbou-opleiding ’n veelbesproke onderwerp. ’n Behoefte aan groter finansiering is by alle werksessies vir belanghebbendes geopper, veral om instellings in staat te stel om praktiese en beroepsverwante opleiding te kan bied.