
Elke boer wat grond huur of wil by-huur moet ’n volledige vertakkingsbegroting opstel om te bereken hoeveel hy vir huur vir die komende jaar kan betaal. Boere moet weet dat beide vaste en veranderlike koste styg en dat hulle hul huiswerk deeglik moet doen om nie verder in ’n kosteknyptang vasgevang word nie.
Verder moet boere, veral die uitgebreide kleiner of mediumgrootte veeboere, hulself afvra of dit werklik nodig is om grond by te huur wat baie duur is. Die hoofwinsdrywer vir ’n veeboer is die verhoging in vleisproduksie per hektaar. Dít is moontlik deur presisieboerdery.
Dr. Pierre van Rooyen, hoofbestuurder van SA Stamboek, beskryf presisieboerdery in die Oktober 2014-uitgawe van SA Graan/Grain as “die doeltreffende aanwending van alle beskikbare hulpbronne, inligting en tegnologie wat kan lei tot minimalisering van risiko’s en die maksimalisering van wins”.
Die punt wat ek wil maak, is dat veral uitgebreide veeboere hulself moet afvra of hulle nie meer op dieselfde plaaseenheid kan produseer nie en dus presisieboerdery kan toepas, eerder as om grond teen die huidige hoë huurwaardes, wat risiko verhoog, by te huur.
Die pryse wat vir huurgrond betaal word, is in sommige gebiede net nie meer winsgewend nie. Met die hoë huurwaardes dus in gedagte, sal ’n behoorlike ontleding van elke vertakking op die plaas baie belangrik wees om vir die boer aan te dui hoe hy vertikaal kan integreer en sy besigheid verder kan verbeter.
Indien boere wel die huurwaardes kan bekostig en dit die enigste opsie is om wins verder te verhoog, is horisontale uitbreiding in terme van ekonomie van skaal belangrik. ’n Boer moet dus sy somme maak voordat hy grond gaan byhuur.
Met die huidige huurwaardes kan veral die kleiner boer dalk eerder fokus op vertikale integrasie en watter planne hy op dieselfde stuk grond kan maak om vir die toekoms mededingend te wees. Die opsies van vertikale en horisontale integrasie moet teenoor mekaar opgeweeg word.