
Steyn het op 12 Mei gedurende ’n vraag-en-antwoordsessie met adj.pres. David Mabuza in die nasionale vergadering die kwessie geopper rakende boere wat briewe gekry het om die staatsplase waarop hul jare lank reeds boer te verlaat.
Mabuza het beloof om te kyk wat die probleem is en hoe die boere gehelp kan word. Hy het ook gevra dat Steyn die nodige besonderhede aanstuur rakende die boere wat aan die onwettige uitsettings onderwerp word.
“Ek het dit gedoen,” sê Steyn. Ongelukkig het Mabuza die boere nie self gekontak om die waarheid eerstehands te kry van hoe hulle deur skelm amptenare behandel word nie. Hy het eerder gekies om ’n rubberstempel af te druk op die weergawes van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, waarvolgens uitsetting die boere nie in die gesig staar nie.
“Dit is onaanvaarbaar dat die adjunkpresident wat voorsitter is van die interministeriële komitee op grondhervorming en landbou, en die verantwoordelikheid het om grondhervorming te versnel, nie besorg is oor die probleme wat boere in die gesig staar nie.”
Mislei
Sy sê Mabuza en Didiza het gekies om staat te maak op die misleidende inligting wat staatsamptenare aan hulle gegee het, en die noodkrete van ses boere ignoreer wat onder druk geplaas word om hul plase te ontruim. Die boere, waarvan sommige in die Oos-Kaap en die ander in KwaZulu-Natal in die omgewing van Kokstad boer, is mnre. Katleho Phahla, Norman Mhlandu, Dumisani Mhlana, Vuyani Zikana, Mphumzi Sislumba en me. Cecilia Qokela.
“Terwyl Mabuza en Didiza volhou dat die spesifieke boere nooit uitsettingsbriewe van die departement gekry het nie, het elkeen aan my bevestig dat hulle onder erge druk van amptenare van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling geplaas word om hul plase te verlaat sodat nuwe begunstigdes daar kan intrek.”
Sy doen ’n beroep op Mabuza en Didiza om self die boere te ontmoet en eerstehands te hoor van die nagmerrie-ondervinding wat hulle moet deurmaak aan die hand van die amptenare, wat onvermoeid voortgaan om hulle van die plase te probeer kry.