
Die DA het by monde van me. Cathlene Labuschagne, DA-LP, gevra oor die kwessie rakende die Wes-Kaapse boer, mnr. Ivan Cloete, wat ’n uitsettingsbevel van die Wes-Kaapse departement van landbou gekry het vir die staatsplaas, Colenso in Darling. Hoewel Cloete produktief op die plaas boer, het die departement die plaas aan 'n groep MK-veterane toegestaan. Nog 'n boer, mnr. John Mabasa, wie se familie al vir generasies sedert 1886 op hul plaas buite Ermelo boer, moet ook veg om op sy plaas te bly.
“In sekere gevalle waar grond wat aan die staat behoort en beset is deur boere, sal ons nie sommer net die boere verwyder van daardie plase nie. Ons sal die produktiwiteit van daardie stuk grond bepaal. Al wat ons as die staat wil hê is dat ons grond produktief moet wees. Ons gaan nie net boere verwyder net om hulle te verwyder nie en ons gaan nie gelei word deur redes om boere te verwyder nie.”
Hy het benadruk dat die voorneme is om boere te ondersteun en grond beskikbaar te stel vir boere. Hy het bygevoeg dat daar onthou moet word dat daar ook diegene is wat van hulle grond ontneem is, wie se grondregte en menswaardigheid herstel moet word.
Mabuza het verlede jaar in die nasionale vergadering gesê die staat sal die kwessie bespreek van die boere wat reeds op staatsgrond is en bygevoeg dat die doel van die 700 000 hektaar staatsgrond produktiwiteit is en dat die bedoeling nie is om die boere met geweld te verwyder nie.
Mabuza se antwoord volg ’n dag na me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, in die nasionale raad vir provinsies ook vrae hieroor beantwoord het. Sy het gesê Cloete se saak is net die punt van ’n ysberg van die probleme wat met grondadministrasie ondervind word.
Didiza, wat nie wou uitbrei oor die Cloete-kwessie nie, het gesê sy het reeds die verslag ontvang van wat daar gebeur het. Regstellende stappe sal gedoen word en die betrokke amptenare sal verantwoordelik gehou word vir omgerymdhede.