
Ná drie agtereenvolgende La Niña-stelsels en vier goeie produksieseisoene wat deur onder meer bogemiddelde reënval in Suid-Afrika aangehelp is, kan dit later vanjaar omswaai na warmer droër toestande indien ’n El-Niño-toestand inskop soos wat sommige wetenskaplikes verwag.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die vier produksieseisoene met bogemiddelde reënval sedert planttyd in 2019 het tot hoër opbrengste vir verskeie gesaaides, vrugte en tuinbougewasse gelei, terwyl die veebedryf ook die voordeel van goeie weiding geniet het. In 2020 was daar ’n kommersiële mielie-oes van 15,4 miljoen ton teenoor die vorige jaar se 11,2 miljoen ton. In 2021 was die kommersiële oes 16,2 miljoen ton en 2022 15,4 miljoen ton en vanjaar word ook ’n oes van meer as 15,5 miljoen ton verwag.
“Gewoonlik is daar so twee seisoene van hoër reënval wat dan gevolg word deur ’n normale tot droër seisoen. Die enigste ander keer dat ons soortgelyke opeenvolgende nat seisoene gesien het, was van 2007 tot 2010.”
Hy het in ’n meningstuk in Business Day daarop gewys dat wetenskaplikes van die internasionale klimaatsnavorsingsinstituut by die Universiteit van Columbia nou waarsku oor die moontlikheid van ’n El Niño-stelsel later vanjaar. Tot Mei en Julie is die kans nog skraal (44%), maar daarna verhoog die moontlikheid tot tussen 53% en 57%.
“Só ’n toestand kan lei tot laer as normale reënval en hoër temperature in Suid-Afrika. Tye wat ons sulke swak landboutoestande weens die mees onlangse El Niño-droogte beleef het, was in die 2015-’16-seisoen toe die mielie-oes tot 8,2 miljoen ton geval het. Met ons jaarlikse verbruik op ’n vlak van 11,8 miljoen ton moes mielies vir plaaslike verbruik ingevoer word.
“Daar was ook ernstige verliese met ander gesaaides, vrugte, tuinbougewasse, sowel as veeverliese. In die geval van ’n matige El Niño-stelsel, soos in die 2018-’19-seisoen, is die afname in stapelvoedsel egter nie só drasties nie. In daardie seisoen was die mielie-oes 11,8 miljoen ton, wat genoeg was vir die plaaslike vraag.”
Die afgelope drie seisoene, die 2022-’23-seiosne uitgesluit, was die totale mielie-oes (kommersieel en nie-kommersieel) gemiddeld bo 16 miljoen ton en dit het verseker dat Suid-Afrika ’n netto uitvoerder kon bly.
Sihlobo sê die plaaslike landbou, veral gesaaides, is hoofsaaklik van reën afhanklik en daar is onmiddellik druk in die geval van ’n droogte. Sowat 20% van die mielies, 15% van die sojabone, 34% van die suikerriet en byna die helfte van koringproduksie geskied onder besproeiing. Baie verbouing van groente en vrugte is ook van besproeiing afhanklik, veral by melkboerderye.
Die onderbrekings weens beurtkrag wek op die oomblik groot kommer en die georganiseerde landbou sowel as die regering soek na kort- en langtermynoplossings om die sektor by te staan.
Hy waarsku dat die nadelige invloed van laer reënval nie dadelik sigbaar is nie, maar oor ’n uitgerekte tydperk voedselsekerheid ernstig kan bedreig. Dit geld ook nie net Suid-Afrika nie, maar die hele Suider-Afrika. Die laaste groot droogte het tot groot voedselonsekerheid in die streek gelei en beleidmakers behoort te beplan om gemeenskappe by te staan wat van die landbou afhanklik is.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.