
Die hof het verder beveel dat dadelik aan die munisipaliteit se rioolinfrastruktuur aandag gegee moet word om die besoedeling van die Vaal- en Wilgerivier te bekamp.
Dié uitspraak is die resultaat van ’n hofaansoek wat AfriForum en die Mafube-besigheidsforum gebring het namens die inwoners van Frankfort, wat reeds jare lank onvoldoende munisipale dienste ontvang. Die munisipaliteit is boonop amptelik bankrot.
Mnr. Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslike regeringsake, sê die hof het bevind dat verpligte intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet reeds moes plaasgevind het, maar dat die premier laks was om die verpligting na te kom.
“Die premier het van 2017 nie opgetree om grondwetlike beginsels te beskerm nie. Dit sluit in basiese regte soos om dienste op ’n volhoubare wyse te lewer, ’n gesonde en veilige omgewing te verseker en te verseker dat gesonde finansiële en bestuurspraktyke toegepas word.
“Hoewel plaaslike owerhede outonoom is, is daar steeds binne die Grondwet ’n oorsigbevoegdheid van die provinsiale regering om te verseker dat dienste gelewer word. In hierdie geval was die provinsiale regering bewus van die munisipale probleme, maar niks is daaraan gedoen nie.
“Indien die premier nie hierdie probleme oplos nie, bly dit die president se verpligting om te verseker dat dienste in Mafube gelewer word.”
Mnr. Jacques Jansen van Vuuren van die Mafube-besigheidsforum sê gemeenskappe en belastingbetalers is keelvol vir swak dienslewering en munisipaliteite wat onbevoeg is om basiese dienste te lewer. Slaggate, gereelde watertekorte, ’n gebrek aan vullisverwydering en ’n wanfunksionerende rioolstelsel is van die probleme wat inwoners van dié dorp ervaar. Die munisipaliteit het ook vir etlike jare geen munisipale rekeninge aan inwoners gestuur nie.
Mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê dit bly belangrik om plaaslike owerhede aan te vat as hulle nie funksioneer nie. “Dit raak duidelik dat die regsraamwerk nie voorsiening maak vir gevalle waar plaaslike en provinsiale owerhede nie meer hul pligte kan nakom nie. Dit beteken dat gemeenskappe op hul eie vermoëns sal moet staatmaak.”