In ’n skrywe aan alle provinsiale polisiekommissarisse het die nasionale afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring en operasies, lt.genl. M.M. Mmotlhala, Maandag (12 September) opdrag gegee dat ’n A4-afdruk van die polisie as tydelike magtiging om ’n vuurwapen te besit aan goedgekeurde lisensie-aansoekers gegee word terwyl hulle op hul lisensiekaarte wag.
Mmotlhala sê in die skrywe dat die vuurwapenregistrateur ingevolge die Wet op Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) by magte is om enige bevoegdheidsertifikaat, lisensie, permit of magtiging ingevolge die wet uit te reik.
Hy sê die sentrale vuurwapenregistrateur het die besluit geneem om A4-afdrukke wat deur die polisie se Enhanced Firearms Registration System (EFRS) gegenereer word, uit te reik wanneer ’n lisensieaansoek goedgekeur is, maar die aansoeker moet wag dat die lisensiekaartjie gedruk word.