
Noudat die energieke Tina Joemat-Petterssen na ’n selfs meer energieke portefeulje aanbeweeg het, is alle oë nou op die nuwe hane op die plaaswerf wat beleidsbesluite rakende die landbou in die toekoms moet neem. Sal Senzeni Zokwana, die nuwe Minister van Landbou, en sy adjunk, Bheki Cele, sleutelspelers wees in pres. Jacob Zuma se belofte om die Suid-Afrikaanse skip in ’n meer radikale sosio-ekonomiese transformasie-rigting te stuur?
Volgens ‘n artikel deur Derick van der Walt fokus skeptisisme oor hul aanstelling nie net op hul gebrek aan ervaring in die landbousektor nie. Dr. Piet Croukamp, ’n politieke ontleder, is onlangs in die media aangehaal dat Zokwana se aanstelling “slegte nuus” vir die landbousektor is. Volgens Croukamp kan die minister se vakbond-agtergrond moeilikheid vir die landbou inhou. Tot onlangs was hy ook voorsitter van die Nasionale Unie van Mynwerkers. Hy is ook voorsitter van die Kommunistiese Party en het hom al openlik oor “radikale grondhervorming” uitgespreek.
’n Mens mag natuurlik ook wonder of dit aanneemlik is om Bheki Cele, wat die stoel van polisiekommissaris onder ’n donker wolk verlaat het, in die verantwoordeliker posisie van adjunkminister in ’n strategiese posisie soos die landbou te hê.
Dr. John Purchase, HUB van Agbiz, sê egter mens moenie nou al die baba met die badwater uitgooi nie. “Kom ons wees positief en gee hulle ’n billike geleentheid om te sien wat hulle beplan.” Purchase is egter bekommerde dat hulle gebrek aan landbou-ervaring beleggingsvertroue in dié sektor kan ondermyn. “Dis nie seker hoekom presies hulle aangestel is nie. Hulle is dalk deel van pres. Zuma se visie van radikale sosio-ekonomiese transformasie.”
Ook mnr. Aggrey Mahanjana, sekretaris-generaal van The African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) en groepbesturende direkteur van die organisasie vir Opkomende Rooivleisboere (Nerpo) is verbaas oor die aanstellings, “want ons het verwag dat mense met landbou-ervaring hier aangestel gaan word”. Hy meen egter ook die nuwe ministers moet ’n kans gegun word. “Hulle beskik darem oor die dienste van goed ingeligte adviseurs in die departement. Hulle karakter en leierskapvermoëns is belangriker, maar hulle moet ook ontvanklik kan wees en gewillig om leiding en raad van die rolspelers in die bedryf te aanvaar. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is ’n komplekse departement, veral omdat dit ook die portefeuljhes van visserye en bosbou insluit.”
Mahanjana benadruk ook dat die ministers ’n balans moet vind tussen die belange van kommersiële en bestaansboere. “Die ekonomie van hierdie land is in kommersiële landbou geanker, want hierdie sektor is vir voedselsekerheid verantwoordelik. Ons is gelukkig om so ’n sektor te hê, want baie Afrika-lande beskik net oor bestaansboere. Daar moet egter van hierdie selfversorgende sektor kennis geneem word, want dit speel ’n belangrike rol om mense in landelike gebiede kos te gee. ’n Goeie balans betreffende beleid is daarom belangrik.”
Hy glo Cele sal ’n aansienlike werkvermoë na die tafel bring, meen Mahanjana. “Zokwana se jare as ’n senior lid van die arbeidsvakbond-beweging kan ook heelwat voordele vir die landbou inhou . Hy moes talle bestuursvaardighede met betrekking tot die dinamika tussen mense, konflikhantering en die ekonomie ontwikkel het.”
Mahanjana glo die minister moet ’n leier en nie ’n adminsitrateur wees nie. “Vorige ministers het soms te veel klem op die rompslomp in hul departemente gelê, soos die aanstelling van personeel. Die minister moet administratiewe sake aan die administrateurs oorlaat en die rol vervul van ’n minister wat die departement met ’n duidelike visie lei. Daar moet ook geen kliekvorming en bevoordeeling jeens ’n spesifieke afdeling wees nie en die ministers moet bereid wees om saam met al die rolspelers in die bedryf te werk. Hulle het die Nasionale Ontwikkelingsplan wat leiding sal bied,” sê hy.
Mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, het die ministers met hul aanstelling gelukgewens. “Dis ’n feit dat die landboudepartement grootliks op tegniese aspekte fokus, waarmee die nuwe politieke leiers moontlik nie heeltemal vertroud is nie. Agri SA is egter gewillig om sy steun in hierdie verband te verleen,” sê Möller.
Möller het gesê hy het hoop dat die werksverhouding tussen Agri SA en die minsiterie van Landbou, Bosbou en Visserye, wat met verloop van tyd aansienlik verbeter het, onder die leierskap van Zokwana voortgesit sal word. “Agri SA wil veral die belange van die landbousektor en landelike gemeenskappe bevorder, en daarom word ’n soortgelyke fokus van die politieke leiers in die relevante minsterie verlang.
Möller het ook na die behoefte aan goeie interaksie met die ander ministeries verwys. “Aspekte soos landelike ontwikkeling, grondhervorming, water en handel is vanselfsprekend van groot belangrik vir die landbou. Soos in die verlede, moet ons ook ten nouste betrokke wees by hierdie ministeries en departemente. Die daarstelling van ’n ministerie vir water en sanitasie is veral van groot belang – nie net vir die landbou nie, maar ook vir Suid-Afrika in die geheel. Dis noodsaaklik om op watergehalte te fokus, want die land het nie ’n goeie rekord op hierdie gebied nie,” sê Möller.
Hy glo ook die Landbou sal net deur middel van ’n gesamentlike poging in staat sal wees om sy rol soos wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan in vooruitsig gestel is, veral ten opsigte van voedselsekerheid, kan vervul.
Mnr. Louis Meintjies, president van TLU SA, het in ’n verklaring gesê hy was baie bekommerd oor die aanstelling van die twee ministers van landbou. “Die landbou is reeds in gevaar met die weglating van vryemark-beginsels, soos die vrywillige koper-, vrywillige verkoper-praktyk en die druk op private eienaarskap. As kommunistiese vakbondlid, sal die minister se simpatie waarskynlik nie by die belange van boere lê nie. Ons is bang dat hulle minder steun van die Regering sal ontvang. Natuurlik sal ons graag verkeerd bewys wil word,” het hy gesê.
In sy eerste media-onderhoude het Zokwana aandeelhouers verseker dat hy nie oorhaastig nuwe idees sal deurvoer nie, maar het benadruk dat verandering in die landbousektor in die nabye toekoms onontbeerlik is.
Eerstens beplan hy om na rolspelers te lusiter en oor die beste oplossings vir boere, werkers en voedselsekerheid te beraadslaag. Hy beskou grondhervorming egter as ’n voorkeursaak. Zokwana het ook gesê hy glo dat harmonie en doeltreffende kommunikasie tussen landbou-organisasies noodsaaklik is om “die nasie te voed”.