
Kort na ’n R4,3 miljoen-hofgeding wat daartoe gelei het dat die Bjatladi-gemeenskap hul bestuursvennote in die Zebediela-sitruslandgoed buite Mokopane uitkoop, kla van die Bjatladi’s nou dat hul regsverteenwoordiger, mnr. Tumi Mokwena, hul besigheid gekaap het.
Die gemeenskap het die landgoed in 1999 bekom ná ’n grondeis en het sedertdien verskeie bestuursvennote gehad in wat eens Suid-Afrika se grootste sitruslandgoed was. Die laaste vennoot was Henley Farming Property (HFP) wat sitrusverbouing op die landgoed sedert 2000 bestuur het.
Die verhouding het egter gaandeweg verbrokkel top op die punt waar bedrywighede verlede jaar tydens die oestyd tot stilstand gedwing is. Die gemeenskap het onder meer ’n siviele geding teen HFP en die landgoed se werkerstrust vir beweerde wanbestuur en bedrog begin. Mokwena, toe die Bjatladi-gemeenskap se regsverteenwoordiger, het HFP se regspan egter glo genader met ’n versoek om buite die hof te skik.
In terme van die ooreenkoms wat bereik is sou die Bjatladi-gemeenskap die HFP aandele in Zebediela Sitrus Bpk. uitkoop teen 30 Junie vanjaar. Nou berig City Press dat Mokwena op een of ander manier ’n aandeel in die besigheid bekom het en gelys is as die direkteur.
Mnr. Ike Kekana, die seun van een van die begunstigdes, sê Mokwena was die een oomblik nog die gemeenskap se regsverteenwoordiger en nou woon hy op die landgoed en noem homself die besturende direkteur. Volgens die maatskappye intellektuele eiendomskommissie Cipro is Mokwena reeds sedert Meimaand ’n direkteur van Zebediela Sitrus.
Kekana het aan die media gesê die landgoed se werkers word nie meer op tyd betaal nie en daar is geen deursigtigheid in die besigheid se finansies nie. Mokwena, wat ook die EFF se leier, mnr. Julius Malema in sy hofgeding teen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verteenwoordig het, kon nie bereik word vir kommentaar nie.