’n Groot TV-skerm is buite die Gelykheidshof in Johannesburg opgerig en dit kan moontlik die TLU SA se regsverteenwoordiger keer om Woensdag (20 April) weer hof toe te gaan. Luidens ’n berig op News24.com is die skerms opgerig sodat ondersteuners van mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, die “Skiet die boer”- saak buite die hof kan volg.
Mnr. Roelof du Plessis, TLU SA se regsverteenwoordiger, het Dinsdag (19 April) gesê as gevolg van dié stap gaan hy dalk nie weer hof toe gaan nie. Hy en sy familie het glo sedert die aanvang van die saak verskeie dreigemente ontvang.
Geen verband met plaasmoorde
Intussen het mnr. Wally Serote, ’n digter en ANC-veteraan, vroeër getuig dat die sing van dié lied geen regstreekse verband met plaasmoorde in die land het nie. Hy het ook met mnr. Derek Hanekom, Adjunk-Minister van Wetenskap en Tegnologie, saamgestem dat ’n nasionale debat oor die kwessie nodig is.
Mnr. Gwede Mantasche, sekretaris-generaal van die ANC, het Dinsdag getuig dat die lied gebruik word om mense te inspireer en te mobiliseer. Hy sê daar is geen kopiereg op struggle-liedere nie, derhalwe kan ander partye – soos die Pan Africanist Congress – dit ook gebruik.
Mnr. Collins Shabane, Minister in die Presidensie, en Malema sal na verwagting ook nog getuig.
Bron: News24.com
19 April 2011