
Suid-Afrika se vroue, insluitende wittes, moet bemagtig word om ook die eienaars van grond te word, het mnr. Julius Malema, leier van die EFF, by die Kaapstadse Persklub gesê.
Malema het gewaarsku dat as Suid-Afrikaners eendag wakker skrik, besit buitelanders groot gedeeltes van die land. "Bill Gates kan die hele Limpopo koop en enigeen wie se van met 'n M begin, daar uitgooi.
"Ek wil nie hê plase moet gaan na politici of diegene met politieke bande nie. Dit moet na die staat gaan."
Hy het verduidelik dat die EFF voorstel dat almal wat grond besit, lisensies daarvoor moet kry.
Niemand sal residensiële eiendom verloor nie. Lisensies moet gegee word aan diegene wat die grond produktief gebruik en hulle moet voortgaan met hulle bedrywighede. Die hektare grond wat egter nie in produksie is nie moet na die staat gaan en dan moet dit aan mense gegee word wat daarop kan produseer.
Hy wil ook hê dat grondeienaars moet spesifiseer waarvoor die grond gebruik word. Die rede hiervoor is omdat 'n nuwe neiging nou, veral in die Waterbergstreek in Limpopo, kop uitsteek waar buitelanders grond aankoop en dit in wildsplase omskep, maar geen wild daar aanhou nie. "Arabiere vat hulle oliegeld en bring hulle meisies en vriende met private vlugte na die land, hop op 'n helikopter en gaan speel op die sogenaamde wildsplase.
"Suid-Afrika se grond word nou omskep in 'n speelgrond, terwyl Suid-Afrikaners grondloos is."
Malema is dit eens dat vroue gemarganaliseer word wat die besit van eiendom betref. Vroue moet ook die eienaars van die ekonomie word en nie net hul mans nie. Landelike vroue wat nie toegelaat word om hulle eie lappie grond te besit nie, se menswaardigheid moet herstel word, het hy gesê.
Hy meen ook almal moet vra hoe hulle sekere eiendom terug kan gee. "Ons wil die welvaart met wit mense deel. Ons kan nie twee lande hê, een vir wittes en een vir swartes, nie."
Hy het benadruk dat die EFF nie saamstem met mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, se voorstel dat plaaswerkers 50% van die plase waarop hulle werk gegee moet word nie. Die land se grond moet nasionaliseer word, die staat moet die voog daarvan word en dit herverdeel.
Hy het ook 'n punt daarvan gemaak dat wit mense nie in die see gejaag kan word nie, want wit en swart het mekaar nodig. "Ek het my seun in 'n wit skool geplaas sodat hy kan leer hoe om met wit mense oor die weg te kan kom."