
Mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, die petro-chemiese maatskappy Shell en Impact Africa, ’n private maatskappy wat vir olie en gas prospekteer, mag appelleer teen die tersydestelling van Mantashe se toestemming vir seismiese ondersoeke langs die Wildekus van Suid-Afrika.
Die Oos-Kaapse hooggeregshof het Dinsdag toestemming gegee dat dié partye teen regter Selby Mbenenge se bevinding vroeër dat die departement van minerale hulpbronne en energie onwettig aan Shell en Impact Africa die toestemming vir seismiese toetse gegee het. Sy bevinding is in September deur ’n vol bank regters tydens ’n hersieningsverhoor in stand gehou.
In Dinsdag se uitspraak het die hof gelas dat hoewel dit geen moontlikheid vir sukses sien nie, dit verlof tot appèl toestaan omdat kwessies van sulke openbare belang ook voor hoër howe gehoor moet word. Die hof het dit duidelik gemaak dat die verlof tot appèl vir die volle hofuitspraak van 1 September is.
Die saak is aanvanklik voor die hof gebring deur verskeie belangegroepe van vissersgemeenskappe tot nieregeringsorganisasies wat hulle op die klimaat en natuurbewaring toelê.
Hierdie groep aansoekers glo die appèlhof sal tot dieselfde gevolgtrekking as die Oos-Kaapse hooggeregshof kom.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.