
Die jogurtvervaardiger Marcel’s Frozen Yoghurt het met die louere as Suiwelproduk van die Jaar op die DuPont Qualité-galadinee in Kaapstad weggestap.
Sy Tropical Fruit bevrore jogurt vir Woolworths het louere voor ‘n rekordgetal van 879 inskrywings kase, botter, roomys en melk van 80 produsente in die SA Suiwelkampioenskap weggeraap.
Dit is die eerste keer sedert die ontstaan ??van die Qualité-eerbewys in 2001 dat 'n bevrore jogurt dié prys wen. Marcel vervaardig bekroonde produkte wat in Suid-Afrika, Botswana en Saoedi-Arabië versprei word.
Altesame 61 beoordelaars, bestaande uit produsente, sjefs en kosjoernaliste, het die produkte in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum beoordeel. Hulle het 95 Suid-Afrikaanse kampioene gekies en twaalf het die Qualité-eerbewys ontvang.
Hulle is: Ladismith Kaas se Baby Gouda, Langbaken Karoo Kaas se Karoo Crumble, Foxenburg Estate se Renosterbos Estate, Fairfield Dairy se lae vet bottertoffie-melk (Food Lover’s Market), die Tropical Fruit bevrore jogurt van Marcel (Woolworths), Dalewood Fromage se Hugenoot-kaas van 12 maande oud en sy Lanquedoc, Fairview se roomkaas rollade en sy chevin met knoffel en kruie (albei vir Woolworths) en Parmalat SA se lae vet, salm-geur roomkaas, sy Simonsberg lae vet gerookte salm roomkaas en sy wit cheddar van 18 maande oud (Woolworths).
A Qualité-prys is 'n simbool van puik gehalte vir suiwelprodukte en word slegs aan Suid-Afrikaanse kampioene oorhandig wat 'n minimum punt op die internasionale telkaart behaal het.
Slegs 'n beperkte aantal van die produkte ontvang hierdie gesogte prys tydens die jaarlikse Suid-Afrikaanse Suiwelkompetisie. Hulle mag dan die kenmerkende logo ‘n jaar lank op hul produkte vertoon.
Mnr. Johan Ehlers, hoof- uitvoerende beampte van Agri Expo en organiseerders van die suiwelkompetisie, sê die belangrikste kleinhandelaars in Suid-Afrika ondersteun die Qualité-pryse en het hul steun beloof om verbruikers meer bewus van die handelsmerk te maak.
Die galadinee is deur Agri Expo met die samewerking van die multinasionale maatskappy DuPont aangebied.
* Die SA Kaasfees begin die naweek in die Kaap.
Byskrif: Mnr. Kieran Quin (links) verkoopdirekteur van voeding en gesondheid van Du Pont in die Sub-Sahara, Jacques van de Haar, besturende direkteur van Marcel’s en Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo op die gala-geleentheid. Foto verskaf