
Die bemarking van wildvleis en ontwikkeling van toerisme op wildplase hou groot belofte in om nuwe bronne van inkomste vir boere te skep. Albei bedrywe staan egter nog in hul kinderskoene.
Me. Adri Kitshoff-Botha, hoof uitvoerende beampte van Wildbedryf Suid-Afrika, het op ’n besoek aan die wildsplaas Monate by Modimolle tydens die onlangse jaarkongres van die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste (IFAJ), gesê boere hoef nie net na die noordelike halfronde te kyk nie, maar kan ook wildsvleis na lande in Afrika uitvoer.
Graanboere verdien sowat VSA$200 per hektaar minder as in Amerika. Dit, tesame met die aanpasbaarheid van wild by ’n gegewe omgewing, maak van wildboerdery ’n goeie alternatief vir saaiboerdery.
Tans word net twee bene van wildboerdery, naamlik teel en jag, optimaal benut. Toerisme en wildprodukte word nog baie onderbenut. “Al meer mense wil egter deesdae ’n natuurgebaseerde ondervinding van die wildbedryf ervaar,” het sy gesê.
Private wildboerdery het eers werklik in 1966 begin. Vandag is daar 10 000 wildplase in Suid-Afrika. Hierdie plase tesame met die infrastruktuur en wild, is saam sowat R250 miljard werd. Tussen die 1800’s en 1960 was daar minder as 600 000 stuks wild in Suid-Afrika. Vandag beloop dit 14 miljoen stuks wild. Dít is danksy die ontwikkeling van wildboerdery en die jagbedryf.
Mnr. Ellis Lourens, eienaar van Monta en Thithombo-wildtelers, het die belangrikheid van toerisme beklemtoon. Hy het gesê hulle spits hul ál meer op ekotoerisme toe, waarin veral buitelandse toeriste baie belangstel. Vir die plaaslike bedryf bied hulle huisvesting in ’n herberg en tentkamp aan en het geriewe vir konferensies en troues.