
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het op Agri Noordwes se kongres in Klerksdorp gesê Suid-Afrika is vanjaar 59ste uit 113 lande en eerste uit 28 Afrikalande suid van die Sahara. In die 2021-indeks was Suid-Afrika 70ste.
“Suid-Afrika handhaaf hoë vlakke van voedselveiligheid en verskaf voedingryke voedsel aan verbruikers,” het Van der Rheede gesê.
Volgens die GFSI was die wêreldwye bekostigbaarheid van voedsel in 2022 7,1 punte laer as in 2012.
Die top-vyf lande in vanjaar se indeks is Finland, Ierland, Noorweë, Frankryk en Nederland. Die vyf swakste lande is Sirië, wat die swakste gevaar het, Haiti, Jemen, Sierra Leone en Madagaskar.
Die verhoging van voedselsekerheid is juis een van die kerndoelwitte van Suid-Afrika se meesterplan vir die landbou- en landbouverwerking.
Van der Rheede het gesê die landbou het potensiaal om te groei, mits dit toegelaat word om markgedrewe te funksioneer. Agri SA het daarop aangedring dat ’n markgedrewe ekonomie een van die beginsels in die meesterplan moet wees.
Die eerste weergawe van dié plan het volgens Van der Rheede verskeie foutiewe aannames bevat, soos dat toenemende konsentrasie en teenmededingende gedrag ongelykheid, armoede en werkloosheid veroorsaak.
Agri SA en Agbiz het druk uitgeoefen dat sulke foutiewe aannames, wat ook ingesluit het dat eienaarskap van grond nie ’n noodsaaklike vereiste vir die kommersialisering van die landbou is nie, vervang moes word met nie-onderhandelbare kommersieel lewensvatbare beginsels.
Dit sluit in die beskerming en uitbreiding van eiendomsreg, die beskikbaarheid van goed bestuurde ontwikkelingsfinansiering soos ’n gemengde finansieringsmodel, die beskerming van die bestaande kommersiële landbouwaardeketting en die aanwending daarvan om inklusiwiteit teweeg te bring, die uitbreiding van handelsgeleenthede vir Suid-Afrikaanse produkte en internasionale mededinging, en die ondersteuning van kommersieel lewensvatbare openbare-private vennootskappe.
Wees aanpasbaar
Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Agri SA, het boere op die kongres aangemoedig om hulself oorgehaal te hou vir die vinnig veranderende tye. Boere, hul boerderye en landbou-organisasies moet aanpasbaar wees en dit is veral nou nodig weens die groot stygings in insetkoste.
Die skommelinge in die politieke landskap, asook wêreldgebeure skep volgens Minnaar ’n belangrike geleentheid vir die landbou om in die volgende drie tot vier jaar sy standpunt oor te dra en beleid te beïnvloed. Agri SA se benadering is om eerder om die tafel te sit en mense te probeer beïnvloed, as om van die kant af te kritiseer.
Minnaar het gesê dit is wel nodig om self dinge te begin doen en nie vir die regering te wag nie. Dit is nodig om self in te spring om seker te maak dat die nodige dinge gebeur, en dit kan met die samewerking van die regering gedoen word. Dit kan beteken om paaie reg te maak, invloed en druk uit te oefen in munisipaliteite om seker te maak dat geld reg bestee word, en om seker te maak dat owerhede hul aandag op die regte sake toespits.
Minnaar het aan Landbouweekblad gesê sulke optrede moet met die insluiting van gemeenskappe wees. “Ons moet in gemeenskappe betrokke wees en verhoudings bou, sodat ons gemeenskappe saam met ons neem wanneer ons self begin optree.”
Die selfdoenbeginsel geld ook ten opsigte van beurtkrag. Boere moet aanvaar dat Eskom se situasie beroerd is en moet planne maak om die risiko vir boerderye en ondernemings te versag.
Ook wat misdaad betref, is daar dinge wat landelike gemeenskappe met die samewerking van die polisie kan doen. Kamera-inligtingstelsels wat saam met die polisie en buurtwag bedryf word, werk baie goed.
Hoewel daar baie is wat boere self kan doen, sal Agri SA volgens Minnaar steeds druk plaas op die staat om sy werk te doen en te sorg dat dienste gelewer word, infrastruktuur onderhou en verbeter word, en die geleentheid geskep word vir die landbou om te groei, in ooreenstemming met die meesterplan.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.