
Ná die Demokratiese Alliansie (DA) die afgelope naweek ’n oesdaggeleentheid van die Masibambisane Landelike Ontwikkelingsinisiatief bygewoon het, wil die party weet of dit gemeenskappe werklik bemagtig.
Me. Annette Steyn, die party se woordvoerder vir landbou, sê die volhoubare ekonomiese voordeel van die inisiatief behoort duidelik gemaak te word.
“Daar is nie ’n greintjie bewyse wat dit duidelik maak dat die inisiatief landelike gemeenskappe werklik op ’n volhoubare manier bemagtig nie. Van wat ek gesien het, is dit bloot ’n uitdeelskema wat Pres. Zuma gebruik om steun te kry in die provinsie waar hy die meeste teenstand kry,” aldus Steyn.
Op grond van dié stellings het Steyn vrae in die parlement aan me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye gestuur.
Kantlyn
Steyn het Sondag (23 Julie 2012) ’n oesdag by die Ncora-besproeiingskema bygewoon. Sy sê regeringsbeamptes het glo die mielies op die landerye geoes terwyl die gemeenskap moes toekyk.
Die mielies wat geoes is, is glo deur die staat op kommunale grond geplant, en daar word beoog om 20% van die geld wat die oes inbring, aan die gemeenskap te gee. Die oorblywende 80% sal verkoop word deur die staat vir geld om in volgende jaar se aanplantings te belê.
“Dit is ’n vinnige en doeltreffende manier om stemme voor Mangaung te wen, nie ’n opregte poging om te bemagtig nie,” aldus Steyn.
Benewens die vrae wat Steyn in die parlement gevra het, is sy ook van plan om vir ’n mosie te vra vir ’n dringende debat oor die hervorming van grondbesit in die voormalige tuislande. “Die DA stel voor dat die titelakte van die grond aan die gemeenskappe gegee moet word.”