
Twaalf stropers is onlangs aan Meganizatori LLC, die Georgiaanse Ministerie van Landbou se meganisasie-diensverskaffers, oorhandig as deel van ’n ooreenkoms tussen dié regering en New Holland Landbou.
Die maatskappy sal die groep in dié tydperk van 92 trekkers en 25 stropers voorsien.
Dié ooreenkoms sluit ook die voorsiening van 50 graan- en mieliestroperkoppe, 25 sonneblomstroperkoppe en 22 stootskraperlemme in. Luidens ’n verklaring is die twaalf TC 5070-stropers deur New Holland se aanleg in Plock, Poland, gelewer en is hulle reg vir gebruik in die oestyd wat in dié land aangebreek het.
Die tweede sarsie wat afgelewer sal word, is nog 13 stropers en 67 T6000-trekkers. Die masjinerie sal deur Meganizatori gebruik word om van die mees gevorderde tegnologie wat in die wêreld beskikbaar is, aan boere in Georgië beskikbaar te stel.
Sake reeds ’n dekade lank in Georgië gedoen
Die maatskappy doen reeds vir ’n dekade lank al sake in Georgië. Met behulp van ’n vorige ooreenkoms is 122 trekkers en 25 stropers in 2010 aan Meganizatori voorsien. Sowat 230 operateurs word tans in dié land opgelei om boere by te staan om die beste resultate uit die gebruik van die masjinerie te kry.
Mnr. Stuart Campbell, New Holland se sakedirekteur vir Sentraal-Asië en die Kaukasiese lande, sê hulle is daartoe verbind om ’n volledige pakket van diens en steun aan die staat van Georgië te verskaf: “Ons is daartoe verbind om Georgië se versoeke te steun, asook hul poging om die land se landbou te meganiseer deur gevorderde landboupraktyke bekend te stel.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoof uitvoerende beampte van die TLU SA, sê min boere in Georgië besit hul eie toerusting, dus gebruik baie van hulle dié toerusting deur dit te huur.
“Die stelsel word goed beheer, met navigasietoestelle wat aandui waar ’n trekker presies is en wanneer dit gediens moet word, ens.” Van Zyl sê van die Suid-Afrikaanse boere wat hulle in Georgië gevestig het, maak ook van dié masjinerie gebruik.