
Die boeredag staan bekend as ’n demonstrasiedag waar boere veral die grootste werktuie in die bedryf in aksie kan sien.
Dié boeredag bied al vir 23 jaar aan boere die geleentheid om op die hoogte van die nuutste landboutegnologie te kom, asook om met tegnici van die verskillende vervaardigers en verspreiders oor hul produkte te gesels.
Volgens me. Elizna Griesel, een van die organiseerders wat by die Waterval-boerevereniging betrokke is, is hulle baie dankbaar vir die groei in bywoningsgetalle vanjaar. Sowat 2 800 mense het verlede jaar die dag bygewoon. Ook die aantal uitstallers het toegeneem van 143 verlede jaar tot 213 vanjaar.
“Die feit dat Val-boeredag uniek is met sy praktiese demonstrasies, uitgesoekte uitstallers en dat dit ’n dag is wat die hele gesin saam kan geniet, maak daarvan ’n groot sukses. Ons kry elke jaar goeie terugvoer van die besoekers én die uitstallers. Die vraag na dié tipe demonstrasies bly dus steeds groot,” sê Griesel.
Sy sê hulle is opgewonde oor die feit dat hulle reeds uitstallers gekry het wat vir volgende jaar stalletjies wil bespreek.
Boere is hartklop
“Die warm harte van die gemeenskap gaan verseker nie terugstaan vir die koue nie. Die boeregemeenskap is die hartklop van dié gemeenskap,” sê me. Wilna du Plessis, bemarkingsbestuurder van Afgri.
Du Plessis sê Afgri wil graag landbougemeenskappe ondersteun. “Dit is vir Afgri belangrik om boere en kliënte oor geslagte heen by te staan en dit is noodsaaklik dat ons voorbly met vernuwing en die aanbied van nuwe tegnologie om sodoende voedselsekerheid te bevorder. Afgri is trots daarop om hierdie dag saam met die Waterval-boerevereniging aan te bied en ons wil hom bedank vir die samewerkgeleentheid.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.