
Die ooreenkoms maak dit moontlik vir boere om regstreekse toegang tot die kundigheid van Neasa oor arbeidskwessies te kry en sluit onder meer in arbeidsadvies, regshulp met arbeidskwessies en verteenwoordiging op verskeie nasionale arbeidsforums.
Mnr. Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa, sê die ooreenkoms impliseer dat alle Saai-lede ook lede van Neasa word. “Dit bied aan hulle onmiddelike toegang tot ons noodlyn en ons hele landwye netwerk wat die grootste in die veld van die arbeidsreg in Suid-Afrika is.”
Terselfdertyd is daar die geleentheid vir Neasa, wat reeds sowat 24 000 besighede as lede het, om sy teenwoordigheid beduidend in die landbousektor uit te brei.
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, beklemtoon ook dat ’n boer wat met arbeidsonrus te kampe het, direkte toegang tot ’n regskenner sal kry wat hom leiding kan gee om die situasie binne die raamwerk van die reg te bestuur. “Daar is nie ’n struktuur aan werkgewerskant wat sterker as Neasa is om te kan help nie.”
Hy wys daarop dat arbeid ’n uiters omstrede kwessie is in die landbousektor, as die grootste werkgewer in landelike gebiede. “Dit is totaal anders as arbeid in ander sektore waar mense na werk huis toe gaan en daar ’n skeiding tussen gesinslewe en werk is. ’n Boer en sy werkers bly op dieselfde werf en plase is baie meer kwesbaar vir arbeidsonrus as ’n fabriek. Daar kan nie net ’n hek gesluit word tot die staking verby is nie.”
Papenfus sê arbeidsreg in Suid-Afrika is beklemmend en vir ’n werkgewer met ’n arbeidsprobleem kan dit maklik tot ’n krisis lei. “Dit is gerusstellend om te weet jy kan ’n telefoon optel om ’n proses aan die gang te kry om jou te beskerm. Ons neem die verantwoordelikheid uit die hand van die werkgewer en maak dit makliker vir hom op die voorspoed van sy onderneming te konsentreer. Daar is nie ’n enkele werkgewer in Suid-Afrika wat nie hierdie diens nodig het nie. Hoe vinniger jy hulp kry, hoe beter.”
Arbeidsonrus of konfrontasie
De Jager sê die landbousektor is juis nie baie goed toegerus om arbeidsonrus of konfrontasie met die georganiseerde arbeid te hanteer nie. As ’n vakbondverteenwoordiger by ’n hek instap, is daar onmiddelik spanning. Dit gebeur gewoonlik ook wanneer dit oestyd is. “Dit gaan ook nie oor ras nie. Saai se swart lede is baie kwesbaarder en swakker toegerus om arbeidsonrus te hanteer. Die meeste van hulle besit nie eens die grond waarop hulle boer nie en hul werkers glo gewoonlik hulle behoort ook begunstigdes te wees en dit vertroebel baie keer werksverhoudinge.”
In hierdie vennootskap met Neasa hoop Saai om ’n sterker stem met die beïnvloeding van arbeidsbeleid te kry. “Neasa het ’n lang rekord met die beskerming van werkgewers se regte en hy sal nou ook boere van oor die land onder sy sambreel intrek. Ons glo die vennootskap sal tot gevolg hê dat kleiner besighede, soos familiebesighede, vorentoe ’n baie sterker stem sal hê by die bepaling van beleid, die opstel van wetgewing en die uitvoering daarvan.”
De Jager sê die landbou kan meer werk skep in die afgeleë landelike gebiede waar dit die nodigste is, maar ’n onvriendelike beleidsomgewing verhoed dit. Die meeste dorpies bestaan net omdat daar boere is en mense wat besigheid doen met boere. “Een van ons gesamentlike doelwitte is om te probeer om hierdie kleiner dorpe lewensvatbaar te probeer hou.”
Drie redes
Drie redes waarom die landbou meer werk in landelike gebiede moet skep is, omdat dit baie keer die enigste werkverskaffer in dié gebiede is wat hoop kan skep, omdat dit mense in diens kan neem wat op geen ander plek in die arbeidsektor werk sal vind nie en omdat dit werkers kan toerus met vaardighede wat hulle later op ander plekke kan toepas, soos voertuigbestuurders.
De Jager sê die heel belangrikste is egter dat klein en mediumgroot besighede se stem ook gehoor moet word by die formele strukture soos die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad, Business Unity South Africa of die departement waar beleid gemaak word.
“Ons glo dat hierdie vennootskap daardie stem sterker sal maak en al slaag ons net in hierdie een doel, dan is die vennootskap al die moeite werd.”