
’n Versoek van Aartappels SA om die toelaatbare afwyking op die grootte-gradering van klas 2-aartappels van 15% tot 25% verslap, is deur die Departement van Landbou toegestaan.
Dié verslapping van toleransies is slegs van toepassing op die graderings medium, groot-medium en groot van tweedegraad- aartappels. Volgens dr. André Jooste, uitvoerende hoof van ASA, is die stap genoodsaak deur ongewenste verliese vir sommige boere.
“In sekere gevalle het weerstoestande meegebring dat aartappels meer langwerpig is as voorheen,” sê Jooste. Dit het meegebring dat aartappels in ’n groot of groot-medium-sak beland, terwyl dit eintlik in ’n medium-sak hoort.
Toleransies
“Die toleransies van 15% op klas 2 is die 10% van die klas 1 en dan ’n bykomende 5% toleransie op die voorgeskrewe standaard. Dit beteken dus daar was eintlik net ’n 5%-toleransie vir ’n klas 2-produk.
“As daar dus ’n 16% afwyking op ’n klas 1-produk was, is dit regstreeks afgegradeer na ’n klas 3-produk, met groot finansiële verliese vir produkte van goeie gehalte,” sê hy.
“Met die ongekende weerstoestande en die aartappels wat ander vorms as normaalweg het, is party boere se hele besending van eerstegraads tot derdegraads afgekeur, terwyl daar niks fout was met die aartappels nie.
Graderinstafels aangepas
Dit is ook nie finansieel volhoubaar vir boere om nie graderingstafels te verander vir landerye waar die weerstoestande die vorms van aartappels só beïnvloed het dat dié kwessie ’n probleem begin raak.
“Hierdie wysiging sal verseker dat die integriteit van eerste grade steeds dieselfde bly.
“Daar is egter ook meer ruimte in die tweedegraad-gradering vir hierdie aartappels wat op grond van grootte-gradering afgekeer word, om nie regstreeks tot derdegraads afgegradeer te word nie,” sê Jooste. Die vergunning geld sedert 20 Januarie 2017 tot Januarie volgende jaar.