
Sowat 1200 volstruise sal van Maandag, 6 Augustus, op ’n plaas naby Aberdeen van kant gemaak word. Dr. Jane Pistorius, bestuurder van Veeartsenykunde in die westelike dele van die Oos-Kaap, sê dit volg ná die voorkoms van die H7N1 Avian Influenza-virus op ’n derde plaas in die distrik bevestig is.
Plase in ’n radius van 10 kilometer buite die dorp is verlede maand onder kwarantyn geplaas ná die virus op twee ander plase gevind is. Sowat 900 volstruise, wat op die twee plase was, is reeds van kant gemaak. Pistorius sê die virus is nog op geen ander plaas in die omgewing gevind nie, maar die kwarantyn sal intussen geld.
Voordat dié uitbreking bevestig is, is 50 000 volstruise reeds van kant gemaak sedert die uitbreking van die H5N2-virus in die Klein Karoo in April verlede jaar. Die bedryf het sedertdien sy uitvoerstatus na die Europese Unie verloor, endit verloor maandeliks honderde miljoene rande aan uitvoerinkomste.
Taakspan aangestel
Intussen sê mnr. Wouter Kriel, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van landbou, ’n taakspan is op 31 Julie aangestel om vas te stel of die doodmaak van diere op ge-affekteerde plase die beste oplossing is. Dít het gevolg op ’n versoek van die bedryf dat die staat ander metodes moet ondersoek om die voorkoms van die virus te beperk.
Luidens ’n berig in BusinessDay bestaan kommer dat die doodmaak van die voëls die bedryf kan vernietig. Die bedryf het sedert die uitbreking meer as R1 miljard reeds aan inkomste verloor. Verskeie boere het al hulle voëls van kant gemaak en hul werkers afgelê.
Nie onnodig
Kriel sê hoewel ander metodes, soos inentingsveldtogte en die gebruik van kwarantyn en beheersones, ondersoek sal word, beteken dit nié dat 50 000 volstruise “vir geen rede van kant gemaak is nie.” Hy sê tydens ’n uitbreking in 2005 en 2006 is voëls ook van kant gemaak, en dié metode wat toe baie doeltreffend.
Volgens mnr. Piet Kleyn, waarnemende hoof-uitvoerende beampte van die Volstruisbesigheidskamer, is nog geen navorsing gedoen oor hoe die H5N2-virus dit in volstruise gemanifesteer het nie.
Bron: Business Day