
Die handhawing van ’n gesonde funksionele ekosisteem is ’n voorvereiste vir ’n winsgewende en volhoubare wildboerdery.
Prof. Nico Smit van die departement vee, wild en weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein sê hoe nader die bedryf en beplanning van wildplase ’n gesonde funksionele ekosisteem nastreef, hoe meer winsgewend en meer volhoubaar sal wildboerdery wees.
Smit het op ’n seminaar van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) egter gewaarsku dat die grootte van die wildplaas ’n kritiese rol in dié proses speel.
“ ’n Eksponensiële positiewe verwantskap bestaan tussen die grootte van ’n wildplaas en sy potensiële winsgewensheid en volhoubaarheid. Dit het hoofsaaklik te doen met die mate waaraan die plaas voldoen aan ’n totale funksionele eko-sisteem,” sê Smit.
Hy sê die land se wildboerdery beleef ’n ongekende groeitydperk met ’n geraamde jaarlikse omset van meer as R8 miljard. In die Vrystaat was teen 2010 reeds 343 private wildplase met omheiningsertifikate. Dit verteenwoordig ’n totale oppervlakte van 402 613 ha met ‘n gemiddelde grootte van 1 174 ha per wildplaas.
Volgens Smit is die risiko van die ekstensiewe aanhou van wild op groter stukke grond baie laer as op klein plase. Die groter plase verseker ’n habitat-diversiteit vir die aanpasbaarheid van verskillende spesies en verlaag die risiko van ’n voedingstekort.
Die kruisteling en verbastering van nabyverwante spesies en sub-spesies, soos die bontebok en blesbok en die wildebees-spesies, kan ook grootliks op groter plase voorkom word. ’n Groter bevolking van ’n spesie, soos by springbokke met ’n sosiale struktuur, bevoordeel natuurlike seleksie.