
Grond speel ’n sentrale rol in die landbou-ekonomie en voedselsekerheid, maar landbougrond alleen lewer nie ’n boer nie, het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike hervorming, vandag (12 Mei) gesê toe sy haar beleid en begroting vir die 2022-’23-boekjaar in die parlement voorgelê het. Sy het ook die meesterplan vir landbouverwerking onderteken.
Sy het tydens haar voorlegging gesê ’n boer benodig grond, water, infrastruktuur, gereedskap, kennis, finansies, mense, navorsing en tegnologie om produktief te kan wees. “Ek verwys na hierdie kwessies om te stel watter reis die afgelope jare onderneem is om ’n getransformeerde, inklusiewe landbousektor in Suid-Afrika te skep.”
Sy het gesê een van die belangrikste elemente vir die opstel van ’n landboumeesterplan, wat met die ontwikkeling van meesterplanne vir die hoender- en suikerbedryf begin het, is om die behoefte aan verdere investering uit te lig. Daarom was een van die departement se projekte verlede jaar die bekendstelling van ’n fonds met die samewerking van die nywerheidsontwikkelingskorporasie wat ses swart hoenderprodusente steun wat altesaam nou 1,9 miljoen voëls per siklus produseer.
“Vandag lê ons ’n begroting van R17,3 miljard ter tafel wat ons verder in staat sal stel om voedselsekerheid te steun deur verskeie projekte waarvan sommige op provinsiale vlak onderneem word. Die grootste gedeelte van die begroting bestaan uit oordragte aan provinsies en landbou-entiteite.”
Volgens haar is ’n gedeelte van die begroting vir die kommersialisering van swart boere deur grondontwikkelingsteun wat reeds suksesvolle opkomende graan-, vee- en oliesaadboere gelewer het. “Terwyl ons hierdie sukses vier, erken ons ook die behoeftigheid wat onder opkomende boere bestaan.”
Infrastruktuur
Didiza het gesê dat daar gedurende die volgende boekjaar probeer sal word om basiese infrastruktuur, onder meer omheining en boorgate, op al die staat se herverdelingsplase op te rig en sowat 250 000 bestaansboere te steun.
Didiza het gesê haar departement is bekommerd oor landelike infrastruktuur, veral landelike paaie. “Ons sal nou met boere en ander vennote saamwerk om te verseker dat hierdie kwessie uit die weg geruim word.”
Volgens Didiza is plaaswerkers ten spyte van hul belangrike rol in die landbou-ekonomie steeds kwesbaar en het haar departement onderneem om ’n direktoraat op die been te bring wat sal konsentreer op plaaswerkers en hul behoeftes.
Meesterplan vir landbouverwerking
Die skep van ’n meesterplan vir landbouverwerking waaroor daar die afgelope 18 maande onderhandel is, was tot dusver volgens haar nie ’n maklike proses nie aangesien verskeie belange ter sprake is. “Elke groepering wil verseker dat sy posisie en belange, insluitend die bewoording vir voorstelle, in dié dokument vervat moet word. Elke onderhandeling is ’n proses van gee en vat, maar die doelwit waarheen ons op pad is, moet die kern daarvan bly.”
Die onderhandelinge het nog nie tot ’n gewenste uitkoms vir alle belanghebbendes gelei nie. “Ons aanvaar dat, al onderteken ons vandag hierdie meesterplan, daar steeds kwessies is wat met ander bespreek moet word. Die dokument wat ons vandag voor ons het, is ’n lewende dokument en daarom moet ons aanvaar dat tyd en veranderende omstandighede van ons sal vereis om reaktief te wees.”
‘Rommelstatus die prys vir transformasie’
Mnr. Bennie van Zul, hoofbestuurder by TLU SA, sê rommelstatus is die prys van transformasie en daarom is TLU SA uiters teleurgesteld dat daar enigsins iemand is wat bereid is om die meesterplan af te teken.
“TLU SA is ontnugter deur die hele proses wat rondom die meesterplan se ontwikkeling plaasgevind het. Daar is bepaalde ondernemings gegee ten opsigte van insette wat verreken en in ag geneem sal word. Daarom het TLU SA reeds op 21 Mei 2021 sterk standpunte ingeneem in ’n voorlegging van 10 bladsye. Daar is ondernemings gegee dat dit aandag sou kry, maar dit het nooit gebeur nie.
“Hier is ons nou op die einde van die proses en daar word vir ons gesê as daar probleme is, moet ons dit maar met die minister opneem, want hulle is nou klaar met die proses. Ons het die gevaar van transformasie uitgewys het. Ten spyte van ’n paar aspekte binne die plan waarmee ons kan saamgaan, maar hulle maak dit onderhewig aan transformasie en dit is ’n baie groot en duidelike gevaarlig vir die landbou.
“Die resultaat van transformasie is duidelik sigbaar regoor alle fasette van Suid-Afrika. Die prys van transformasie is daar vir almal om te sien. Hierdie ANC-beleid omvat al die aspekte soos kaderontplooiing, swart ekonomiese bemagtiging en daarmee saam al die korrupsie wat ons sien. Tans sit ons met ’n mislukkende ekonomie wat nie funksioneer nie. Daar is nie meer gehalte-onderrig in skole nie, die gesondheidsdienste is in die drein af en dan praat ons nog nie eens van die veiligheidsdienste of die ineenstorting van infrastruktuur nie. Plundering en sabotasie vier hoogty.”
Van Zyl sê daar is groot kommer dat die belanghebbendes wat die plan vandag onderteken, nie noodwendig primêre boere is nie. “Ons is oortuig dat as ons as organisasie die meesterplan onderteken, versaak ons elke kommersiële boer in die land – swart en wit – want ons plaas hulle onder druk met die verkeerde soort beleidsontwikkeling wat noodwendig hieruit gaan voortspruit. Die ANC maak alles ideologies pleks van ekonomies. Daarmee het ons ’n baie groot probleem.
“TLU SA stel dit onomwonde dat die dokument nie onderteken mag word nie. Ons was bereid om saam te werk om seker te maak ons kom uit by ’n ekonomies gedrewe landbouplan in belang van al die belanghebbendes, maar ongelukkig lyk dit asof die ANC en van die ander belanghebbendes anders gekies het.”
Afasa tevrede met meesterplan
Die Afrika-boerevereniging van Suid-Afrika (Afasa) het verlede week aangedui dat hy nie van plan was om die dokument te onderteken nie aangesien spesifieke, belangrike aspekte daarin nagelaat word.
Mnr. AJ Mthembu, president van Afasa, sê hulle het hul kommer oor die nuutste weergawe van die meesterplan gedeel en dat van hul voorstelle ingesluit is, maar dat hulle steeds nie daarmee tevrede was nie en Dinsdag 10 Mei ’n dringende vergadering met Didiza gehad het.
“Ná die tweede vergadering met die minister binne twee weke is ons tevrede met die eindproduk. Die minister het ons verseker dat die dokument nie ons voorstelle eksplisiet woord vir woord vervat nie, maar dat die toepassing ons sal tevrede stel aangesien die meesterplan nie ander funksies en beleide van die departement vervang nie.”
Afasa het dus ingestem om die meesterplan te onderteken mits sy bekommernisse deur die toepassing daarvan aangepak word deur, onder meer, ’n aggressiewe grondhervormingsprogram met ’n minimum van 40% in swart besit teen 2030, asook die oordrag van 10% van waterlisensies aan swart boere met ’n doelwit van 60% teen 2030 en die transformasie van die watergebruikersverenigings.