
Beter tegnologie en bestuur is die antwoord om in die vraag na rooivleisproduksie vir Suider-Afrika te voldoen.
Mnr. Lardus van Zyl, uittredende voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie het op die RPO-kongres op Parys gesê bykomende vereistes vir verhoogde produksie is hoër intensifisering, geïntegreerde produksiestelsels en presisieboerdery.
Met verwysing na die droogte in Suid-Afrika, sê hy dat 'n rampdroogte-meesterplan wat tydige staatshulp insluit, iets is waarsonder die bedryf nie kan klaarkom nie.
Kommersialiseer
Volgens Van Zyl is dit ook noodsaaklik om 'n bemagtigende omgewing te skep sover dit die owerheid se betrokkenheid by die bedryf betref. Dit is uiters noodsaaklik dat die ontwikkelende bedryf, wat 40% van die land se lewende hawe besit, asook die 1,2 miljoen huishoudings wat lewende hawe aanhou, gekommersialiseer word, se hy.
"Die RPO het hom tot transformasie verbind en 'n projek vir die opleiding van nuwe boere is in die nege provinsies in werking gestel."
Van Zyl het in sy voorsittersverslag uitgewys dat 'n gemeenskaplike visie vir die hele rooivleisbedryf ontwikkel moet word. Om geleenthede te benut sal die bedryf ook 'n kollektiewe uitvoerstrategie moet ontwikkel om ook vir die primêre produsent waardetoevoeging te verseker.
Vereistes vir bedryf
Van die vereistes waaraan die bedryf moet voldoen, is 'n vrywillige naspeurbaarheidstelsel, ten spyte daarvan dat die land 'n netto-invoerder van vleis is. Die bedryf sal ook 'n bykomende klassifikasiestelsel moet oorweeg om rooivleis van hoë gehalte te waarborg.
Hy het ook gemaan dat die rooivleisbedryf homself moet reguleer. "Indien bedrywe nie selfregulering toepas nie, sal die owerheid met wetgewing tussenbeide tree," se hy. Dit behels onder meer die inspuit van soutwater in verwerkte produkte, asook die sout-inhoud van produkte.
Van Zyl het ook 'n beroep gedoen vir die instelling van 'n eenheidsorganisasie vir álle bedrywe in die land om kollektiewe beleidsbepaling te vergemaklik en beter verhoudings met die staatsdepartemente te bewerkstellig.
* Mnr. Koos van der Ryst volg mnr. Lardus van Zyl, op wat nie weer verkiesbaar was nie.