Die toepassing daarvan in die staalbedryf laat egter die gevaarligte flikker, veral dié van mnr. Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid. Tog is daar vanuit die landbousektor, veral die pluimvee- en suikerbedryf, groot dankbaarheid vir die beskerming.
Die meesterplanne vir die pluimvee- en suikerbedryf bied beskerming teen die storting van goedkoop ingevoerde landbouprodukte wat die plaaslike sektore op hul knieë gedwing het, duisende werkgeleenthede vernietig het en kleinboere se enigste bron van inkomste weggeneem het.
In die staalbedryf gaan dit egter die armste van die armes wees wat die spit gaan afbyt omdat dié sektor se meesterplan ’n paar maatskappye beskerm ten koste van dié mense wat skrootmetaal uit rommelhope herwin, het mnr. Donald MacKay, direkteur van XA International Trade Advisors, in ’n meningstuk gesê waarin hy hom uitgespreek het teen die verlenging van die prysvoorkeurstelsel (PPS) op skrootmetaal met ’n verdere twee jaar.