
Dit volg na drie voorvalle van onwettige besettings Maandag by Agri Noordwes aangemeld is.
In een van die voorvalle het besetters ’n stuk grondbuite Stilfontein in Noordwes vanaf Sondagaand beset. Mnr. Naude Pienaar, assistenthoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die grond, wat deel vorm van die plaas Sandpan 423 IP, behoort aan die nasionale departement van openbare werke. Die situasie word tans deur die departement ondersoek en sodra bevestig kan word wat die stand van sake is, sal ’n klag by die polisie gelê word.
Intussen sê die VF Plus luidens ’n verklaring dat hy en Afriforum die situasie monitor. Honderde mense het glo erwe uitgemeet en afgebaken. Die party beweer dat van die besetters met behulp van amptenare van die Matlosana-munisipaliteit optree. Die saak is met die munisipale raad, sowel as met mnr. Gaoage Oageng Molapisi, die LUR vir openbare werke in Noordwes, opgeneem.
Agri Noordwes en die VF Plus moedig boere aan om kalm te bly te midde van die situasie en om binne die letter van die wet op te tree.
Klagamien
Pienaar sê intussen het die situasie in die distrik Klagamien naby Tosca bedaar. Dit volg ná onwettige grondbetreders boere aan die begin van Julie geteister het. Die teistering duur al sowat ’n jaar lank, met die besetters wat plase se heinings knip en beeste op die grond injaag. Ses kommersiële boere is al deur die besetters gedreig.
Hy sê die betreders intimideer ook boere, hits mense aan tot geweld en rig groot skade aan. Hulle beskadig nie net infrastruktuur nie, maar as die boer nie vinnig genoeg optree nie, stuur hulle ’n veewagter om ’n tydelike skuiling op die grond op te rig, wat die boer met ’n situasie van grondbesetting en gevolglik regstappe laat.
Volgens Pienaar is die beeste wat in die mees onlangse voorval op ’n plaas ingejaag is, deur die polisie geskut. Die beeste is vermoedelik ’n mengsel van opkomendeen kommunale boere se beeste, sowel as vermoedelik gesteelde beeste.
“Nog niemand het dié beeste opgeëis nie, wat talle vrae rondom die situasie laat ontstaan.” Die situasie word egter deurentyd gemonitor. Agri Noordwes sal voortgaan om die situasie te monitor en met die owerhede te skakel.
“Ons wil boere aanmoedig om paraat te wees en by die relevante owerhede aan te meld as hulle vreemdelinge op hulle grond sien of vreemde strukture gewaar.
“Die probleem gaan nie bloot net weggaan nie, dit gaan heel moontlik erger word en boere sal moet optree om verdere komplikasies te verhoed.” Pienaar vra boere ook om kalm te bly tydens sulke situasies en om nie die wet te oortree nie.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.