
Die boerderygemeenskappe van KwaZulu-Natal en elders in Suid-Afrika word aangemoedig om die nasionale padagentskap (Sanral) se slimfoontoepassing te gebruik om die ligging van alle slaggate in hul omgewing aan te meld. Die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu) sê slaggate en ander probleme met vervoerinfrastruktuur veroorsaak ernstige ekonomiese verliese en lewensverlies.
Sanral het in Augustus sy slaggat-toepassing (Pothole App) vir slimfone bekend gestel as deel van sy Operasie Vala Zonke/Kwala Kaofela- (maak hulle almal toe) veldtog. Dié toepassing is bedoel om lede van die publiek in staat te stel om onmiddellik alle slaggate, en die ligging daarvan, landwyd aan te meld.
Sanral het aan Landbou.com gesê dat, verbasend genoeg, die Pothole App teen 21 Oktober nog net 3 303 keer afgelaai is en dat slegs 5 741 slaggate deur dié toepassing se gebruikers aangemeld is. Daar is na raming 25 miljoen slaggate reg oor Suid-Afrika.
Benewens sy Pothole App beoog Sanral ook om ’n sentrale databasis met alle paaie in Suid-Afrika te vestig.
“Dit sal Sanral in staat stel om te bepaal watter padowerheid verantwoordelik is vir die herstel van ’n slaggat. Dit sluit ook die ontplooiing van Sanral se padowerheidtoepassing (Road Authority App) in wat die herstelwerk van die aangemelde slaggate deur die ongeveer 288 padowerhede in Suid-Afrika dophou, die opleiding van padowerhede in die gebruik van die Road Authority App en die aantekening van elke owerheid se instandhoudingspanne wat aan spesifieke padgedeeltes toegewys is,” sê Sanral.
Me. Sandy La Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê in hierdie stadium van Suid-Afrika se stryd met die gehalte van sy paaie is haar organisasie bly oor inisiatiewe wat hierdie probleme takel.
“Hoewel dit gebruikersvriendelik is, moet die Pothole App goeie resultate lewer, anders is dit bloot geld wat in ’n gat verdwyn. Kwanalu vertrou dat hierdie inisiatief ’n verskil sal maak en moedig sy lede aan om die geleentheid om slaggate te laat herstel, te toets en te benut.”
Tydens die bekendstelling van Operasie Vala Zonke/Kwala Kaofela op 7 Augustus het mnr. Fikile Mbalula, minister van vervoer, gesê korrupsie is dikwels agter diensleweringsmislukkings, soos die instandhouding van paaie, en dat slaggate ’n groot hindernis vir ekonomiese groei is.
“Om korrupsie te voorkom, moet Operasie Vala Zonke/Kwala Kaofela gevolgbestuursmaatreëls bevat. Waar daar korrupsie is, moet dit beslissend gepak word. Oor die volgende ses maande sal ons die impak van dié ingrypings noukeurig monitor en assesseer. ’n Moniterings- en evalueringsvermoë is ingestel. Dit sal Sanral in staat stel om ouditverslae te skep wat die grondslag sal vorm vir die toets van die werk wat onderneem is, en vir die omkeertyd in die herstel van slaggate.”
Besoek valazonke.co.za/get-the-app/ om uit te vind hoe om die slaggattoepassing af te laai en te gebruik.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.