Die suiwelbedryf benodig nou sterk leierskap binne die totale suiwelwaardeketting vir oorlewing, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO).
Mnr. Dean Kleynhans, voorsitter, sê daar is nie eenstemmigheid in die bedryf oor waarheen die mark op pad is nie. “Hoewel verbruik verlede jaar met 5% gestyg het, het die suiwelbedryf – naas die volstruisbedryf – die tweede laagste styging in sy aandeel in die verbuikersprys aangeteken. Ons hou net nie by inflasie nie. En dit is asof die mark nie die vermoë het om op die styging te kapitaliseer nie,” verduidelik Kleynhans.
Volgens Kleynhans blyk dit of voorspellings wat verlede jaar gemaak is dat die mark sywaarts gaan beweeg, tans gevolg word.
Slegs 2 400 produsente
“Ons het in die 1960’s 80 000 melkprodusente in die land gehad. Vandag is net 2 400 oor, en die bedryf verloor tans een produsent elke dag. As dié neiging homself gaan voortsit, gaan ons oor 30 jaar net 12 groot melkprodusente in Suid-Afrika oor hê,” aldus Kleynhans.
Kleynhans sê geweldige woelinge heers nou in dié bedryf. Baie melkboere oorweeg om hulle diere te verkoop omdat hulle nie meer winsgewend kan boer nie, en sommige melkkopers weier om hulle pryse aan boere te verhoog. “Ons het tans ‘n gemeenskaplike siening en ‘n allesomvattende strategiese plan vir die bedryf nodig.”
Verkoop melkbeeste ná 35 jaar
Intussen het me. Wilma Swanepoel, wat die afgelope 35 jaar ‘n melkboer in die Bothaville-distrik is, Donderdag, 2 Februarie, haar Ayrshire-kudde op ‘n veiling verkoop. Altesaam 180 diere is aangebied.
Mnr. Jan Mosterd, ‘n afslaer van BKB, sê Swanepoel het dié stap geneem omdat dit nie meer vir haar moontlik is om die koste van melkproduksie met die geld wat sy per liter ontvang te delg én ‘n bestaan te kan maak nie.
“Sy is een van die beste melkboere wat ek ken,” vertel Mosterd. Swanepoel gaan haar nou op vleisbeesboerdery toespits.”
3 Februarie 2012