Boere word gewaarsku teen ’n moontlike sikliese melkoorskot en gevolglik laer melkpryse in 2013/2014, sê Clover.
Dié maatskappy het met die aankondiging van sy halfjaarlikse resultate sy hand aan ’n voorspelling gewaag as die bedryf weer dieselfde scenario as die produksietoename van 2008 beleef.
Mnr. Jaques Botha, hoof uitvoerende beampte, sê gedurende die melktekort van 2007 het pryse aan boere met sowat 70% gestyg, maar “dit is hoogs onwaarskynlik dat pryse weer daardie vlakke sal bereik.”
Hy sê sedert begin vanjaar het hul pryse aan boere, weens onder meer ’n tekort, met sowat 20% gestyg.
Hy sê ’n herhaling van die verhoogde produksie sal weens 2007 se hoë pryse, weer ’n oorskot in die mark tussen Junie/Julie 2013 en dieselfde maande in 2014 tot gevolg kan hê.
Vinniger
Botha sê melkkopers het reeds vinniger op die tekort en huidige hoë produksiekoste gereageer, wat nié die geval tydens 2007 se tekort was nie. Verder meen hy die daling in pryse in 2008 is vererger deur die wêreldresessie, wat nie in die voorspelde scenario ’n rol sal speel nie.
Mnr. Johan Vorster, hoof uitvoerende beampte, sê as “plaashek”-koste binne die komende maande kan stabiliseer, sal ’n oorskot moontlik nie voorkom nie, maar die tekort kan kleiner word.
“Produksiekoste op plase is hoog en selfs die 20% melkprysverhoging stimuleer nie melkproduksie nie, dit onderhou eerder bestaande produksievlakke. Dit is dus onwaarskynlik dat melkproduksie teen dieselfde vlakke as in 2007 en 2008 gestimuleer sal word,” sê Botha.
13 Maart 2012